OUDTSHOORN NUUS - Vyf-en-sewentig voormalige lede van Bravo Kompanie van 1985 het onlangs hul 40-jaar-reünie by Kleinplaas in Oudtshoorn gehou. Die spesiale geleentheid was gevul met herinneringe, broederskap en trots.
Van die 75 was ses pelotonsersante en een pelotonbevelvoerder. Die kompaniebevelvoerder van 1985, kol. Flip le Roux, het ook die geleentheid bygewoon.
Voor die program die Vrydag begin het, het die groep eers op die grasperk bymekaargekom dat hulle weer 'n slag gedril kan word. Meeste van hulle kon die bevele onthou.
Die reünie, wat deur Deon van Loggenberg saamgeroep is, het nie net die geleentheid gebied om oor gedeelde ervarings te gesels nie, maar ook om hulde te bring aan die kameraadskap en diensgees wat Bravo Kompanie se manskappe deur die jare heen gekenmerk het.
Volgens Van Loggenberg is hier mense wat mekaar 40 jaar laas gesien het.
"Die gesprekke tussen ons is soos dit in die verlede was. Ons het net aangegaan waar dit opgehou het. Dit was lekker om weer kontak te maak met die mense wat saam met ons diens gedoen het. Baie se nommers het verlore gegaan, maar ons kon nou weer met mekaar kontak maak."
Volgens hom is hulle oor die land heen versprei, maar die band tussen hulle bly steeds.
Die teenwoordigheid van kolonel Flip le Roux het 'n spesiale betekenis aan die geleentheid verleen. Sy boodskap van dankbaarheid en trots vir sy voormalige manne het 'n gevoel van trots en samehorigheid versterk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’