OUDTSHOORN NUUS - Die opgradering wat vanaf 1 Maart 2023 by die De Jager-sportkompleks plaasvind, behoort nie 'n impak op die KKNK te hê nie.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, sê kontrakteurs het verlede week met die munisipaliteit en die KKNK vergader en het die kontrakteurs beloof om so te werk dat die opgradering minimale impak op die KKNK het.
Die kunstefees vind plaas van 1 tot 9 April.
"Bernard le Roux van Dryland Event Management het verduidelik dat die gronde rondom die atletiekbaan vir die feesterrein gebruik gaan word en dat kontrakteurs net tot een hek in St. Johnstraat toegang sal hê. Hy het ook genoem dat die geraas en stof van die konstruksiewerk steurend kan wees vir feesgangers," sê Mle.
Volgens Mle is daar net vier dae, 3 tot 6 April, gedurende die fees wat die kontrakteurs op die atletiekbaan sal wees.
Daar is ook ingestem dat die KKNK, kontrakteurs en munisipaliteit tydens en voor die fees gereeld sal kommunikeer.
Burgemeester Chris Macpherson het sy dank teenoor die verskillende partye uitgespreek vir hoe hulle die situasie hanteer en saamwerk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'