CALITZDORP NUUS - Eleanore Bouw-Spies, die DA se kiesafdelingshoof vir Kannaland, het onlangs 'n besoek by die Calitzdorp-polisiestasie afgelê.
Volgens 'n verklaring, wat deur Spies uitgereik is, het dié stasie, net soos al die ander in Kaapstad en Oudtshoorn, te min hulpbronne.
"Daar is tans net drie voertuie by die Calitzdorp-polisiestasie en net een van die voertuie is hul eie. Hul eie een is tans in vir herstelwerk en die ander twee word van Oudtshoorn af geleen. Oudtshoorn-stasie sukkel egter ewe erg met hulpbronne. Die senior-lede het ook melding gemaak van die feit dat daar 'n massiewe te kort aan personeel is."
Bouw-Spies het verder gesê dat die toestande nie volhoubaar is nie en hulle nie kan verwag dat inwoners veilig moet wees wanneer die polisie nie eens ten volle toegerus is om hulle veilig te hou nie.
Die DA het ook met die lede van die Calitzdorp-gemeenskapspolisiëringsforum ontmoet.
"Hulle werk ewe hard om die dorp vir almal veiliger te maak. Die lede van die GPF het egter genoem dat die ernstige te kort aan polisievoertuie en personeel kommerwekkend is. Ons wil graag ook die GPF-lede vir hul harde werk bedank."
Die DA in Kannaland het hulself tot die volgende verbind:
- Om die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, Reagan Allen, asook ministers van ander relevante departemente, te nooi om te verseker dat amptenare op 'n gekoördineerde wyse saamwerk om misdaad te bekamp,
- Om 'n 'n databasis van alle organisasies en instansies te vestig wat gemeenskapopheffingsprogramme in die gebied doen om misdaad te bekamp,
- Om die SAPD-kantore te ondersteun waar nodig en
- Om die Calitzdorp-gemeenskapspolisiëringsforum te ondersteun.
Eleanor Bouw-Spies (regs) gesels met lede van die Calitzdorp-polisiestasie.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'