OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se suksesvolste bouers en sakemanne, Byron Bredenkamp (64) by baie bekend as ‘Mr B’, is op 13 Februarie in ‘n hospitaal in Plettenbergbaai oorlede nadat hy op ‘n bouperseel siek geword het.
Bredenkamp is in ’n huldeblyke tydens ‘n roudiens en sy begrafnisdiens in die Oudtshoorn United Congregational Church beskryf as ‘n man met min woorde, maar groot dade.
Dr. Esau Willemse, ‘n boesemvriend van Bredenkamp vanaf hul skooldae, beskryf hom as ‘n doelgerigte vakman en ‘n reus vanuit die stofstrate van Bridgton.
Volgens Willemse het Bredenkamp ‘n besondere sakebrein gehad en geweet wat hy uit die lewe wou hê.
Bredenkamp het volgens pastoor John Plaatjies, in die tagtigerjare by Murray en Roberts begin werk en later sy eie konstruksiemaatskappy gestig. “Die res is geskiedenis,” het Plaatjies gesê.
“Hy het in 1983 al vir my gesê dat dit sy droom is om eendag sy eie huis te bou. Byron was ’n hardwerkende man wat altyd eerste op die bouperseel was en altyd met groot trots oor sy kinders en later kleinkinders gepraat het. Hy was ‘n ware gesinsman.
“Hy was ’n reguit mens en kon baie vinnig ‘n situasie opsom. Hy was ferm dog vriendelik, ’n lojale mens. Hy was vlymskerp, baie sjarmant, beginselvas en ’n man met ’n onwrikbare geloof. Iemand op wie jy altyd kon staatmaak."
Volgens Plaatjies het die bouindustrie en sakegemeenskap van Oudtshoorn en die Suid-Kaap het ’n groot man verloor.
"’n Baie suksesvolle sakeman by uitstek."
Philip Seroux, voorsitter van die Oudtshoorn- gemeenskapspolisiëringsforum het Bredenkamp beskryf as ‘n man met 'n baie goeie hart wat nooit gehuiwer het om te help waar hy kon nie.
“Ek sal hom onthou as iemand wat regtig vir sy gemeenskap omgegee het.”
Bredenkamp word oorleef deur sy vrou, Lorna, drie kinders, Breyton, Lorné (Saayman), Bryony, drie kleinkinders, vier broers en ‘n suster. Hy is privaat veras.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’