Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Kommer oor die aantal ernstige botsings by sekere kruisings op Oudtshoorn is die afgelope week weer deur inwoners geopper.
Verlede Vrydag het die soveelste botsing by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat plaasgevind en Maandag was die kruising van Langenhovenweg en Rademeyerstraat weereens die toneel van 'n botsing.
Die botsing by die kruising met Van der Rietstraat het plaasgevind toe 'n Ford Focus by die stopstraat Baron van Reedestraat wou kruis en met 'n aankomende Hyundai gebots het waarna die Hyundai 'n paal getref het.
Alhoewel niemand in die botsing beseer is nie, het inwoners opnuut gevra dat die kruising beveilig moet word aangesien daar reeds verskeie botsings plaasgevind het.
Die botsing by Rademeyerstraat het plaasgevind toe 'n vragmotor met 'n sleepwa uit Langenhovenweg links in Rademeyerstraat gedraai het. Die agterwiele van die sleepwa het 'n Mercedes Vito wat links van die vragmotor was, getref.
Volgens die bestuurder van die vragmotor was die Vito agter hom toe hy begin draai het.
"Omdat die trok so lank is moet ek eers regs gaan en die draai wyd vat. Toe ek my flikker aansit was die Vito nog agter my, maar toe ek al in die draai is het ek 'n toeter gehoor en gestop."
Kyk 'n video hieronder:
Hy het toe besef dat die Vito links van die vragmotor wou verbygaan terwyl die vragmotor reeds begin draai het.
Die bestuurder van die Vito sê egter die vragmotor het nie sy linker flikkerlig aangehad nie.
"Sy gevaarligte (hazards) het aangegaan en ek het gedink hy hou in die middel van die pad stil. Ek wou links verbygaan, maar toe draai hy."
In reaksie op 'n navraag oor die aantal botsings by spesifieke kruisings van systrate met Langenhovenweg en Baron van Reedestraat het Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, gesê Langenhovenweg en Baron van Reedstraat is provinsiale paaie.
Dit beteken dat die provinsie genader moet word om die situasie te assesseer en moontlike maatreëls aanbeveel. Volgens hom is daar reeds in die verlede versoeke aan die provinsie gerig om spesifieke kruisings te ondersoek.
Intussen maan verkeersowerhede bestuurders om ag te slaan op padreëls en gehoor te gee aan padtekens aangesien die meeste botsings as gevolg van onoordeelkundige bestuur voorkom.
Lees 'n vorige artikel: Vragmotor ry byna oor voertuig
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'