OUDTSHOORN - Die borgtogaansoek van die vier verdagtes wat na 'n transitoroof by 'n vulstasie in Oudtshoorn in hegtenis geneem is, is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof vir verdere argumente tot volgende Dinsdag 17 Augustus, uitgestel.
Simphiwe Matwa (41), Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en Sakhele Nkabi (36) almal van George, staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie asook 'n vierde klag van onwettige besit van 'n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Die saak spruit uit 'n voorval op Maandag 19 Julie toe 'n Fidelity-sekerheidswag omstreeks 11:00 oorval en van sy vuurwapen en meer as R86 000 kontant beroof is.
Drie van die verdagtes is dieselfde dag op die Outeniquapas naby George in hegtenis geneem en die vierde een, Sakhele Nkabi (36) wat 'n kaptein by die Infanterieskool in Oudtshoorn is, is 'n aantal dae later aangekeer.
Die saak is Dinsdag eers om 14:00 hervat omdat die regsverteenwoordiger van Matwa, Dolomba en Nkabi, adv. Zukile Mqulo, nie vroeër by die hof kon wees nie.
Die verrigtinge het begin met die vertolking van die beskuldigdes en die ondersoekbeampte se verklarings van Engels na Xhosa.
Hierna het Lento se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, 'n bykomende verklaring van sy kliënt aan die hof voorgelees en opgehandig.
Mqulo het met argumente waarom Matwa, Dolomba en Nkabi borgtog toegestaan behoort te word, gesê dat Matwa werkloos is, maar 'n huis in Port Elizabeth besit wat hy teen R9 000 per maand uithuur.
Hy is by tye ook 'n taxibestuurder en het geen vorige veroordelings. 'n Vorige klag van roof teen hom is teruggetrek. Daar is geen getuienis dat hy, soos deur die staat beweer, saam met die veiligheidswagte van Fidelity gewerk het nie.
'n Saak van roof teen Dolomba is in 2020 deur die staat teruggetrek en daar is geen getuienis dat hy 'n verkeerde woonadres aan die ondersoekbeampte verskaf het nie.
Hy is 'n motorwerktuigkundige en onderhou sy familie en sy kind.
Volgens Mqulo het die staat 'n baie swak saak teen Nkabi. Hy het 'n vaste werk as weermagkaptein en sorg vir sy moeder en kinders. Daar is geen getuienis voor die hof dat die tweede vuurwapen aan hom behoort nie.
Volgens Mqulo is dit in belang van geregtigheid dat borgtog aan Matwa, Dolomba en Mkabi toegestaan word en kan die hof streng borgtogvoorwaardes stel en indien die hof hoër bedrae vir borgtog vasstel, hulle in staat sal wees om dit te kan betaal.
Die ondersoekbeampte, ao. Lunika Buqa, staan borgtog teen.
Landdros Marvin de Vos het die saak vir voortsetting van die aansoek tot Dinsdag uitgestel, met 'n tweede datum, 18 Augustus, indien een dag te min is vir die afhandeling van die aansoek.
Simphiwe Matwa (41)
Lwandiso Lucas Lento (36)
Masixole Edward Dolomba (27)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'