DYSSELSDORP NUUS - Borgtog van R5 000 is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan 'n plaaslike regsman wat daarvan aangekla word dat hy die voorwaardes van 'n beskermingsbevel verbreek het.
Die 43- jarige adv. Shawn Ferreira het volgens die klagstaat glo op 3 Oktober na die woning van die klaer, die ma van sy vyfjarige seuntjie, gegaan waar hy haar uitgeskel het as 'n "slegte ma" en gedreig het dat hy haar sal doodmaak.
Die beskermingsbevel is reeds op 27 Oktober 2021 uitgereik waarvolgens die beskuldigde nie kontak mag maak met die klaer, en ook nie by haar woning mag kom nie.
Ferreira se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het gesê dat die beskuldigde nie 'n vlugrisiko is nie en sy volle samewerking aan die polisie gegee het. Hy het slegs een vorige veroordeling en geen getuienis voor die hof dat hy 'n geneigdheid het om misdaad te pleeg nie.
Die staatsaanklaer, Lucia Lewis-Dick, het borgtog teengestaan omdat, volgens haar, die misdaad gepleeg is terwyl die beskuldigde op borgtog was op 'n ander saak.
Landdros Ludick Sass van Beaufort-Wes het in sy uitspraak gesê dat die doods-dreigement en skellery nog net bewerings is en die beskuldigde dit ontken.
Volgens die landdros is daar geen getuienis voor die hof dat die beskuldigde 'n vlugrisiko is nie en die hof dus aanvaar dat hy hof toe sal kom. Daar is ook geen getuienis voor die hof dat die beskuldigde sal probeer om die klaer of ander staatsgetuies te beïnvloed of intimideer nie.
So ook is daar geen getuienis voor die hof dat hy die regstelsel in gevaar sal stel of die openbare orde sal versteur nie.
"Die applikant het twee getuies geroep wat sy weergawe gestaaf het en hulle is nie deur die staat onder kruisverhoor geneem nie," het die landdros gesê.
Alhoewel Ferreira deur die landdros gemaan is om nie oor die meriete van die saak te praat nie het hy dit tog gedoen. Hy ontken die bewerings teen hom en voer aan dat die klaer 'n saak gemaak het nadat hy hul verhouding beëindig het.
Oor die staat se bewering dat hy borgtog-voorwaardes van 'n ander saak teen hom verontagsaam het, het die hof bevind dat die saak teruggetrek is voor die huidige saak en daar dus geen borgvoorwaardes was wat oortree is nie.
Die hof het gelas dat Ferreira elke Woensdag en Saterdag by 'n polisiekantoor in Oudtshoorn moet rapporteer, nie by verdere misdaad betrokke raak nie en by 'n alternatiewe adres in Oudtshoorn moet woon.
Hy mag ook nie Dysselsdorp besoek voor die afhandeling van die saak nie en moet hou by die voorwaardes van die beskermingsbevel teen hom.
Die saak is voorlopig tot 15 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'