CALITZDORP NUUS - Ná die Springbokke se uitmuntende Wêreldbekertriomf in Frankryk, het die bekende plaaslike wynkelder en stokery, Boplaas, vir elkeen van die Springbokke en hul bestuur, 'n bottel whisky gestuur. Dit was beslis nie 'n alledaagse geskenk nie.
Boplaas is buite Calitzdorp in die Klein-Karoo geleë.
Dit is 'n enkelmout-whisky wat spesiaal deur Daniel Nel, Boplaas se sesde-generasie distilleerder, uitgesoek, versny en gebottel is. Dit is vir vyf jaar in tweede- en derde-vul Bourbon-vate verouder. Daarna is die goue vloeistof vir 'n verdere twee jaar in Boplaas se kampioen Vintage Reserve portvate herverouder. Die whisky is gebottel teen 'n alkohol sterkte van 54%.
Toe Springbok-skrumskakel, Faf de Klerk, onlangs in Mosselbaai was, het Nel hom gaan besoek om een van hierdie bottels persoonlik te oorhandig.
"Dit is vir my en ons by Boplaas 'n voorreg om iets vir die Bokke te gee, wat so baie vreugde en geluk vir ons land verskaf het," het Nel gesê.
Buiten die spesiale whisky, het Boplaas ook 'n beperkte versameling bymekaargesit, wat aan die publiek te koop is. Hierdie kis bevat whisky, port en wyn en sluit Boplaas se kampioen portstyl-wyne van SA se Wêreldbeker-jare 1995, 2007, 2019 en 2023, sowel as die Springbok uitgawe enkelmout-whisky en 'n bottel 2023 Alvarinho, 'n Portugese witwyn, in.
Die kiste is beslis versamelstukke en verkoop teen R3 700 elk. Vir meer inligting, stuur e-pos na admin@boplaas.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’