OUDTSHOORN NUUS - Vyf dinamiese vroue van Bongolethu, wat hulself trots ‘The Big 5’ noem, het Vrouemaand op ’n betekenisvolle wyse gevier deur ’n groep vroue uit hul gemeenskap met ’n spogdinee, gevul met sang, dans en uiteenlopende vermaak te bederf.
Die byeenkoms is gehou in die Toekomsrus-gemeenskapsaal en het nie net hul gasvryheid nie, maar ook hul toewyding aan vrouebemagtiging ten toon gestel.
Volgens Ntomboxolo Matinyane, een van die lede van die groep, het sy saam met haar vier vriendinne, Axolile Nombande, Noluvo Mlolomba, Nomathamsanga Vena en Nomaxabiso Moni, besluit om ’n positiewe verskil in hul gemeenskap te maak.
“Ons het op ’n dag besluit om iets betekenisvol vir ander vroue te doen. Dis vir ons belangrik om terug te ploeg en ander te inspireer,” sê Matinyane.
Die dames sien hul bydrae as deel van ’n groter doelwit: om vroue in die gemeenskap te bemagtig en ’n gevoel van samehorigheid en ondersteuning te kweek. Hulle beoog om soortgelyke inisiatiewe in die toekoms aan te bied.
‘The Big 5’ hoop om met hul pogings steeds meer vroue aan te moedig om hul krag en waarde te vier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’