OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende in bewaringskringe en ook direksielid van die Langenhoven Gedenkfonds, Jan Odendaal, het tydens die KKNK 30 inheemse bome namens Groen vir Lewe, Bome van Hoop geskenk ter viering van die 30ste KKNK.
Groen vir Lewe is 'n niewinsgewende maatskappy wat in 2009 deur advokaat Wessel Rabbets gestig is met Odendaal as uitvoerende hoof.
Oudtshoorn-munisipaliteit se reinigings-dienste, onder leiding van Harold Lekay (tegniese komiteevoorsitter vir KKNK 2026), het 30 witkareebome en tien spekbome in ontvangs geneem.
Volgens Odendaal het die maatskappy reeds honderde omgewingsprojekte by feeste, skole en verskeie munisipaliteite van stapel gestuur.
"Die Grobbelaarsrivier in Oudtshoorn en die Eersterivier in Stellenbosch was al tydens die KKNK en die US Woordfees as 'teaters' gebruik om saam met studente en leerders die belangrikheid van skoon water onder feesgangers en die breë publiek se aandag te bring," sê Odendaal.
Deur die jare het Nederland, Absa en die departement van bosbou by die projekte betrokke geraak en met die Bome van Hoop-projek is duisende bome reeds op verskeie dorpe geplant. Nog 'n projek, Sade van Hoop. het tydens Covid-tyd ontstaan waardeur honderde groentetuine in woongebiede gevestig is.
Die eerste drie witkareebome wat vanjaar tydens die KKNK geskenk is, is deur die akteur Frank Opperman en feesdirekteur, Hugo Theart, langs die Grobbelaarsrivier geplant.
Die res van die bome is aan die parke-afdeling en Lekay en sy span van reinigingsdienste toevertrou en is op verskeie plekke langs die Grobbelaarsrivier geplant.
Lekay het ook 'n hele aantal spekbome ontvang wat in Langenhovenweg geplant is.
Hierdie inisiatief het ook 'n wonderlike raakpunt met die KKNK se strategie vir 'n groener fees, wat vanjaar in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n baie suksesvolle herwinningsprojek ingesluit het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’