OUDTSHOORN NUUS - Bekende Karoo-kunstenaar en digter, Hendrik Johannes van der Hoven, of Boet soos hy ook bekendgestaan het, se boek is verfilm en die dokumentêr word vanaf Junie deur kykNET uitgesaai.
Boet van der Hoven was 'n kunstenaar wat in Prins Albert gebore is en 'n ruk in Oudtshoorn gewoon het. Hy is 2003 skielik oorlede.
Die boek, Boet se Goet, is in 2014 deur Boet se dogter, Adri van der Hoven, gepubliseer met behulp van Tania Bester as uitlegkunstenaar en Xaviernagel Book Agencies as uitgewer.
Die leser word bederf met sowat 70 kunswerke en 30 kleurryke lewensversies waar hy met woorde en kwashale nostalgiese prentjies oopvlek oor sy kontrei en sy mense.
Die dokumentêr
Met die lees van die boek, Boet se Goet, het die filmmaker Koos Roets tot die gevolgtrekking gekom dat dié Klein-Karoo kunstenaar aan 'n groter gehoor bekend gestel behoort te word.
Sedert 2021 het hy die verfilming van die projek op eie stoom, met die hulp en bystand van sy lewensmaat, die skrywer Eunice Visser, aangepak. Koos sou sy stempel finaal met keurige en sensitiewe redigering op die projek afdruk.
Die projek is verlede jaar voltooi en sedertdien slegs deur 'n handjie vol persone gesien. Die dokumentêr is die semi-biografiese verhaal van Boet se leeftyd as kunstenaar en mens, soos deur vriende en familie vertel.
Behalwe vir die bydrae deur David Kramer oor die rooivelskoen-legende, is daar onder meer ook mededelings deur vriende soos Kobus Spies en Danie Bothma.
Die sanger-liedjieskrywer, Anton Goosen, het Boet se vers Saterdagaand se Loop getoonset en die temalied met hom as sanger voeg inderdaad waarde by tot die dokumentêr.
Die verteller-aanbieder is die bekende en bekroonde digter en stemkunstenaar Daniel Hugo.
Nader aan die uitsaaityd kan Boet-aanhangers gerus op Boetvanderhoven Facebook en Instagram gaan loer vir datums en uitsaaitye.
Vir argiefdoeleindes verwelkom Adri van der Hoven steeds 'Boet-stories' sowel as inligting oor sy kunswerke wat in privaat besit is.
Adri se kontak besonder-hede: 071 9334346 adrivdhoven@gmail.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’