Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Wanneer Johnny Theunissen, 'n boer in die Beaufort-Wes-omgewing, se dagtake afgehandel is, klim hy op sy padstal se dak, maak homself tuis op 'n ou ysterkatel en slaap onder die sterre tot vyfuur die volgende oggend om verder te boer.
Theunissen slaap sedert Maandagaand op die dak van sy padstal om voergeld vir boere in nood in te samel.
"Ek gaan elke aand op hierdie dakkie slaap totdat ek R50 000 ingesamel het om te betaal vir vervoer om geskenkte voer by my medeboere te kry," het hy Dinsdag by die Scheurfontein-padstal langs die N12 aan die Oudtshoorn Courant gesê.
Theunissen boer reeds meer as 20 jaar op die plaas sowat 45 km voor Beaufort-Wes.
Hy sê die droogte het talle boere in die omgewing op hulle knieë.
"Daar is omtrent nie 'n boer in die omgewing wat genoeg voer vir sy skape het nie. Daar word baie voer uit die noorde geskenk, maar dit kos tussen R15 000 en R20 000 per vrag om die voer hier te kry.
Ek is gelukkig om genoeg voer te hê, maar ek wil geld kry om voer vir boere wat plat teen die grond is te kry."
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Theunissen is die huidige droogte die ergste wat hy in meer as twee dekades as 'n boer beleef het.
"Dit is 'n ramp, ons kan niks aan die droogte doen nie. Al wat ons kan doen is om planne te maak en mekaar te ondersteun.
"Ek het gedink as ek op my dak slaap bring dit 'n klein bietjie humor in, maar dit sal ook baie aandag trek en hopelik broodnodige fondse genereer."
Theunissen doen die geldinsameling onder die vaandel van die nasionale organisasie, Boere in Nood wat alle skenkings vir Theunissen se projek hanteer.
Boere in Nood is in 2015 gestig en het sedertdien hulpverlening aan honderde boere regoor die land gegee.
"Ons help enige boer op enige plek in die land sover as wat dit vir ons moontlik is. Hierdie projek van Johnny wys wat in ons boere steek en hoe hulle mekaar help," het Tommy Klopper van Boere in Nood Woensdagoggend telefonies vanuit Pretoria gesê.
Mense wat Theunissen se poging wil ondersteun kan Tommy Klopper van Boere in Nood by 062 300 2308 skakel.
Volg ook Boer op Dak op die Facebook-blad, Boere in Nood-groep.
Boere in Nood se bankbesonderhede vir skenkings is: Boere in Nood. FNB Tjek 626 145 800 84 Tak 250-655 Verwysing: Boer op dak
Johnny Theunissen by sy bed op die dak.
Mense wat tussen Oudtshoorn en Beaufort-Wes onderweg is kan gerus net na die Beaufort-Wes 50-bordjie by Scheurfontein-padstal stilhou en 'n boodskap of 'n skenking vir die boer op die dak los.
Kort voor saktyd gister het die Oudtshoorn Courant verneem dat 'n sakeman wat tot verlede jaar in die dorp was en ook belange op Beaufort-Wes gehad het, reeds R10 000 geskenk het.
'n Motorhandelaar van Bloemfontein het ook reeds onderneem om die volle vervoerkoste van twee vragte voer te dra.
Lees 'n vorige artikel: Boer slaap op dak vir voer
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'