OUDTSHOORN NUUS - Die SWD Saru Legends se eerste vereringseremonie, wat Saterdagmiddag 17 Oktober in die Banketsaal in George plaasgevind het, was 'n besondere geleentheid waartydens 42 rugbylegendes vir hul jare lange bydraes tot die sport en hul blywende nalatenskap vereer is.
Volgens Pieter Säfers van die Saru Legends was die 42 vereerdes almal op verskillende maniere by rugby betrokke, hetsy as spelers, skeidsregters of afrigters.
Die geleentheid het hulde gebring aan persone wie se toewyding, opoffering en passie vir rugby 'n onuitwisbare merk op die sport en die gemeenskappe waarin hulle gedien het, gelaat het.
Vir baie van die aanwesiges was dit 'n geleentheid om herinneringe op te roep, prestasies te erken en jare lange bydraes op gepaste wyse te vier.
George se burgemeester, Browen Johnson, het tydens sy verwelkomingstoespraak die betekenis en waarde van die rugbylegendes se nalatenskap beklemtoon.
Hy het hulde gebring aan die rol wat dié rugbyfigure deur die jare gespeel het en die belangrikheid daarvan onderstreep om hul bydraes te erken en vir toekomstige geslagte te bewaar.
Säfers sê Joey Daniels, die SWD Saru Legends se voorsitter, het in sy toespraak beklemtoon dat die erkenning van dié rugbyikone vir hul rol in die bevordering en uitbouing van rugby in die SWD-streek lank reeds agterstallig was.
"Die boodskap van die dag was duidelik: Rugby se ware nalatenskap lê nie slegs in oorwinnings, trofeë en rekords nie, maar ook in die mense wat die spel dien, die lewens wat hulle aanraak en die inspirasie wat hulle vir toekomstige geslagte nalaat," sê Säfers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’