Video
BEAUFORT-WES NUUS EN VIDEO - ‘n Boer van die Beaufort-Wes omgewing slaap sedert Maandagaand op die dak van sy padstal om voergeld vir boere in nood in te samel.
Johnny Theunissen het gister by die Scheurfontein padstal langs die N12 tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn gesê hy gaan elke aand op die dak slaap totdat hy R50 000 ingesamel het.
“Daar is omtrent nie ‘n boer in die omgewing wat genoeg voer vir sy skape het nie.
"Daar word baie voer uit die noorde geskenk, maar dit kos tussen R15 000 en R20 000 per vrag om die voer tot hier te kry.
"Ek is gelukkig om genoeg voer te hê, maar ek wil geld kry om voer vir boere wat plat op die grond is te kry.”
Volgens Theunissen is die huidige droogte die ergste wat hy in meer as twee dekades as ‘n boer beleef het.
“Dit is ‘n ramp, en ek het gedink as ek op my dak slaap bring dit ‘n klein bietjie humor in, maar dit sal ook aandag trek en hopelik broodnodige fondse genereer.”
Theunissen doen die geldinsameling onder die vaandel van die nasionale Boere in Nood-organisasie wat ook die skenkings hanteer.
Boere in Nood is in 2015 gestig en het sedertdien hulpverlening aan honderde boere regoor die land gegee.
“Ons help enige boer op enige plek in die land sover as wat dit vir ons moontlik is. Hierdie projek van Johnny wys wat in ons boere steek en hoe hulle mekaar help,” het Tommy Klopper van Boere in Nood vanoggend telefonies gesê.
Mense wat Theunissen se poging wil ondersteun kan Tommy Klopper van boere in Nood by 062 300 2308 skakel.
Volg ook Boer op Dak op die Facebookblad, Boere in Nood groep.
Kyk 'n video hieronder.
Johnny Theunissen
Die Scheurfontein padstal op die N12 sowat 45 km voor Beaufort-Wes.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'