OUDTSHOORN NUUS - Boelie is ‘n doelbewuste aksie om iemand anders seer te maak of sleg te laat voel. Dit hou aan en stop nie ten spyte daarvan dat die boelie weet die ander party kry seer of raak hartseer. Daar is gewoonlik ‘n magsverskil tussen partye.
Dit is belangrik dat ouers ingelig is oor die verskillende vorme van boelie, insluitend fisiese, emosionele, sosiale en kuberboelie.
Volgens Marisa Lindeque, skool maatskaplike werker van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is kuberboelie ‘n groot uitdaging omdat al meer kinders toegang tot tegnologie het en ouers nie altyd bewus is dat groot gevare hier skuil nie. Die toegang tot tegnologie moet noukeurig deur ouers gemonitor word. Deur gereeld met hul kinders te praat oor hul ervarings by die skool en op sosiale media, kan ouers 'n oop kommunikasiekanaal skep waar kinders gemaklik voel om probleme te deel.
Volgens Wilma Espach, skool maatskaplike werker is daar verskeie redes waarom kinders boeliegedrag openbaar. Dit kan wees om aandag te trek of oor hulle onseker voel. Dit kan wees oor probleme tuis, uit weerwraak, om in beheer te voel deur ander te domineer asook as gevolg van onverwerkte woede.
Hoe weet ek as ouer my kind word geboelie?
As ouer is dit belangrik om aandag te skenk aan veranderinge in jou kind se gedrag wat kan dui op boelie. Volgens Jacomien Rocchi, opvoedkundige sielkundige, kan tekens insluit 'n skielike afname in akademiese prestasie, onttrekking van sosiale aktiwiteite, onverklaarbare beserings, of 'n verandering in eet- en slaappatrone. Kinders wat geboelie word, kan ook emosioneel wees, soos om gereeld angstig of depressief te lyk. Dit is belangrik om sensitief te wees vir hierdie tekens en 'n veilige ruimte te skep waar jou kind voel hulle kan openlik praat oor wat hulle ervaar. Gereelde gesprekke oor hul dag en hul gevoelens kan help om hierdie probleme vroeg op te spoor.
Hoe weet ek as ouer my kind is dalk die boelie?
Om te weet of jou kind dalk die boelie is, vereis ook waaksaamheid en 'n oop benadering. Tekens dat jou kind dalk ander boelie, kan insluit aggressiewe gedrag, 'n gebrek aan empatie, en 'n behoefte om ander te domineer, is dikwels in konflik met ander kinders, klagtes van onderwysers en ander ouers. Volgens Natasha Uys, voorligtingsielkundige, moet ouers onthou dat kinders foute maak.
"Ouers tree gewoonlik instinktief aanvallend op wanneer hul kind van boeliegedrag beskuldig word. Die doelwit behoort te wees om by die kern van die gedrag uit te kom en hoe hierdie hanteer word kan die verskil wees. Ouers moet kalm bly en kinders moet van jongs af leer dat hul verantwoordelik is vir hul gedrag en dat hul aksies gevolge het. ‘n Betrokke ouer kan sy/haar kind toerus met vaardighede om uit foute te leer. Deur positiewe gedrag te modelleer en jou kind te leer oor die belangrikheid van respek en empatie, kan jy help om hierdie gedrag te verander."
Wenke wat deur amptenare van die WKOD aan ouers gegee word wat vermoed dat hulle kinders geboelie word, is:
• Praat met jou kind oor boelie en luister, laat hom/haar toe om sy/haar storie te vertel. Ondersteun jou kind en wees geduldig.
• Voorsien inligting aan jou kind en kyk watter opsies daar is om dit te hanteer en werk aan ‘n oplossing saam met jou kind.
• Kontak onmiddellik die klasopvoeder en werk saam aan ‘n plan. Indien dit onsuksesvol is nader die skoolhoof.
• Leer jou kind van die boelie ‘high five’. Laat jou kind jou ‘n ‘high five’ gee en verduidelik dan die vyf punte op sy vingerpunte:
1. Staan regop en sê: "Los my uit."
2. Hou jou hand uit in ‘n stop teken en sê hou op.
3. Beweeg weg na ‘n plek waar daar meer kinders is.
4. Praat met ‘n onderwyser, volwassene of vriend.
5. Bly kalm en vriendelik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’