PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert is reeds sinoniem met boeke en skrywers.
Die jaarlikse leesfees is 'n gewilde geleentheid op boekwurms se kalender en vanjaar behoort die naweek van 1 tot 3 November weer aan hulle.
Vanjaar se program spog met ongeveer 30 persoonlikhede wat wissel van skrywers, digters, joernaliste en storievertellers tot musikante.
Die fees is verlede jaar as 'n proeflopie by die skouterrein aangebied, maar die organiseerders het besluit om dit vanjaar weer by die oorspronklike plek, die Jans Rautenbach Schouwburg, aan te bied. Die Schouwburg is sentraal geleë en binne stapafstand van die middedorp.
Gesprekke waarna die gehoor kan uitsien sluit skrywers soos Dana Snyman, Anzil Kulsen, Jan van Tonder, Dennis Cruywagen, Zelda Bezuidenhout en Kerneels Breytenbach in. Debuutdigters Pieter Hugo en Hannes Visser is ook op die verhoog waar hulle met mekaar gesels oor hulle bundels Alchemie van my muse en Die jaar toe pa ...
Pieter Hugo gesels ook met Jan van Tonder oor sy boek, Die verevrou, 'n epiese roman wat strek oor dekades en kontinente heen. Anzil Kulsen, wat veral, bekend is vir haar jeugverhale, en Nadine Blom gesels met Vanessa Botha oor hulle gesamentlike roman oor mensehandel.
Een gesprek wat waarskynlik baie belangstelling gaan lok is Miché Solomon (Zephany Nurse) en skrywer, Joanne Jowell. Hulle bespreek Miché se merkwaardige storie met Vanessa Botha.
Die Prins Albert-Leesfees word jaarliks gekenmerk deur interessante gesprekke en interaksie tussen skrywers en die gehoor. Die program word so saamgestel dat gesprekke nie oorvleuel nie en besoekers soveel as moontlik kan bywoon.
Vir meer inligting en die volledige program besoek www.princealbertleesfees.org
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'