OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Camino, saam met sr. Annatjie Muller, 'n klinieksuster by Bridgton-kliniek, het begin met 'n Boeke en Blokkies vir Kleuters-projek waar daar blokkies en boeke vir kinders van die Oudtshoorn-gemeenskap ingesamel word.
Muller, met haar passie vir die opbou en die ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe, glo dat elke mens oor die potensiaal beskik om sy eie onmiddellike omgewing ten beste te verander.
Weens haar noue betrokkenheid by die breë gemeenskap word sy daagliks gekonfronteer met verskillende uitdagings wat die gemeenskap ervaar, en het sy die groot behoefte aan vroeë kindontwikkeling raakgesien.
Omdat sy glo dat kinders se intelligensie en verbeelding ontwikkel deur lees en die voorlees van boeke, het sy besluit om boeke en ander opvoedkundige speelgoed, soos blokkies, inkleurboeke, telrame en vorms in te samel en dit aan kleuterskole in die gemeenskap te skenk.
Kleuters sal deur voorlesings uit boeke ook waardes soos eerlikheid, verantwoordelikheidsin, dissipline, eiewaarde, spanwerk en betroubaarheid aanleer.
Wanneer kinders met blokkies en ander opvoedkundige speelgoed in groepies speel, kan waardevolle konflikhanterings- en probleemoplossingstegnieke gevorm en vasgelê word.
So skenk jy
Boeke en opvoedkundige speelgoed kan in gemerkte houers by Pick n Pay Oudtshoorn geplaas word. Vir meer inligting kontak Okkie Fourie by 071 209 1977.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’