Update
OUDTSHOORN NUUS - Die berugte 'Blou Deure' waarvan Oudtshoorn Courant verlede jaar in Mei geskryf het, word eersdaags opgeveil.
In verlede jaar se berig word daarop gewys hoe omliggende besigheidseienaars gebukkend gaan onder misdaad, wat uit die 'Blou Deure' spruit.
Hennie Davel, eienaar van Y-Not Eiendomme, het in dié artikel bevestig dat dié sakeperseel eens op 'n tyd as 'n drankwinkel bedryf is. Volgens hom is die hersonering van die perseel ongelukkig as 'n ligte nywerheid geregistreer, en is 'n dranklisensie nie meer bekombaar nie. Dié artikel lui ook dat Davel al op verskeie geleenthede 'n koopaanbod aan die eienaar gemaak het, wat hy dan van die hand gewys het, omdat die aanbod glo te min is.
By navrae het die eienaar van die 'Blou Deure' aangedui dat hy graag die gebou voetstoots vir R1,5 miljoen wil verkoop.
'n Navraag is ook aan die munisipaliteit gerig om te verneem wat hulle te doen staan om hierdie probleem te beredder.
Die munisipaliteit het toe onderneem om dit summier aan te spreek.
Dakplate is stuk-stuk afgebreek en tans is slegs die raamwerk van die plafon oor. Foto: Verskaf
Na agt maande is die agteruitgang van die gebou egter nog duideliker sigbaar en het Oudtshoorn Courant op 19 Januarie, weer die munisipaliteit genader om te verneem of enige aksie rakende hierdie gebou, al geneem is.
Oudtshoorn-munisipaliteit neem aksie
Die munisipaliteit het op 30 Januarie bevestig dat hulle in die proses is om die invorderingsprokureurs te versoek om die kortste wetlike roete te neem om die eiendom op 'n veiling te verkoop.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die 'Blou Deure' al in September 2022 aan die munisipaliteit se invorderingsprokureurs oorhandig, met die instruksie dat daar op die eiendom beslag gelê moet word.
Mle het ook bevestig dat die munisipaliteit in noue kontak met die invorderingsprokureurs was en dat die munisipaliteit die vordering van hierdie proses gemonitor het.
Volgens Mle het die eienaar van die 'Blou Deure' nie op enige aanmanings van die prokureur of munisipaliteit om die uitstaande munisipale skulde te vereffen, gereageer nie. Die eienaar het ook geen verantwoordelikheid vir die gebou geneem nie.
Mle sê ook dat die gebou tans 'n publieke oorlas is en dat die munisipale verordering duidelik stipuleer dat opgetree moet word indien;
- enige gebou of struktuur of enige gedeelte daarvan in 'n vervalle, verwaarloosde of onooglike toestand verval.
- enige leë of ontwikkelde perseel of grond in die omgewing van 'n straat deur ongemagtigde persone gebruik.
Hendricks het ook aan wetstoeppassings-beamptes opdrag gegee om daagliks die gebou te patrolleer en om ook toe te sien dat geen haweloses of persone die perseel betree nie. Dit munisipaliteit het ook hierdie probleem onder die aandag van die Oudtshoorn-polisie gebring en het hy hulle versoek om asseblief die omgewing in die aande te patrolleer.
Die omvang van die skade is duidelik sigbaar soos 'n mens deur die gebou beweeg. Foto: Verskaf
Wat beplan die Oudtshoorn-polisie om die area te beveilig
Kol. Tania du Plessis van die Oudtshoorn-polisie het ook mondelings aan Oudtshoorn Courant bevestig dat hulle bewus is van die 'Blou Deure' en dat die polisie gereeld patrollies na die area uitstuur.
Du Plessis het gesê dat indien hulle opmerk dat iemand in die gebou is, hulle die persoon sal versoek om die perseel te verlaat. Volgens haar kan daar ongelukkig geen arrestasies gemaak word, alvorens die eienaar van die gebou nie 'n kriminele saak teen die oortreders maak nie.
"Dit is wel 'n ander saak indien dwelm-misbruik of vandalisme ten tyde van die patrollering waargeneem word; dan sal ons 'n arrestasie kan maak," het sy gesê.
Oudtshoorn Courant sal die verwikkeling van die beslaglegging op die gebou monitor en terugvoering aan ons lesers gee wanneer die veiling sal plaasvind.
Vorige artikel: Blou deure 'n seeroog
Klere en rommel lê oor die hele gebou verstrooi. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'