Gallery
OUDTSHOORN NUUS EN GALERY - Die vervalle gebou op die hoek van Poplar- en Randstraat, wat as die 'Blou Deure' bekendstaan, het die laaste tyd 'n geweldige seeroog vir inwoners geword en ook 'n middelpunt vir misdaad.
Hennie Davel, eienaar van Y-Not-eiendomme het Oudtshoorn Courant die week genader rakende die vervalle gebou.
Volgens hom het die gebou, wat al meer as 'n jaar so staan, nou 'n gevaar geword vir al die omliggende besighede.
FOTOGALERY: Drankwinkel, nou net 'n leë dop!
Dié sakeperseel, wat eens op 'n tyd as 'n drankwinkel bedryf is, staan tans leeg en is behoorlik geplunder.
"Hierdie perseel se hersonering is as 'n ligte nywerheid geregistreer, en 'n dranklisensie is nie bekombaar met so 'n hersonering nie," sê Davel.
"Davel, wat van die besigheidspersele om dié gebou verhuur, beklemtoon dat die stand van sake nou so drasties geraak het, dat die aangrensende besighede nou óók onder die vandalisme lei.
So sê besighede
Oudtshoorn Courant het met verskeie besighede in die omgewing gepraat en al die besighede is dit eens dat misdaad in dié spesifieke area toeneem.
"Ons is bekommerd oor die veiligheid van ons kliënte," het een van die eienaars gesê.
Danny Redelinghuys, eienaar van Spilhaus, vertel ook hoe hulle van sy palissadeheinings afgebreek het.
"Na die heining afgesteel is, het dit die polisie vier dae geneem om te reageer. Dit maak 'n mens moedeloos. Hoe bedryf jy 'n besigheid in so 'n onveilige gebied?"
Volgens hom het hulle ook al verskeie kere met die polisie kontak gemaak, maar voel dit soms asof die polisie nie genoeg aandag aan die situasies gee nie, en nie genoeg moeite doen om misdaad in hierdie area te bekamp nie.
Hy sê ook hy het al geweldig baie gedoen om te keer dat hulle maklike toegang tot sy eiendom het.
"Ek het die Donderdag die vensters by die Blou Deure toegebou. Die Saterdagoggend toe ons hier aankom was die bakstene uitgebreek.
Ons het dit toe maar weer die Maandag laat toebou."
Redelinghuys vertel ook van 'n geval waar hulle by 'n kliënt se bakkie ingebreek het en Rosche Botha ('n werknemer van Spilhaus) agter die misdadiger aangehardloop het.
Met die hoop dat plakkers nie in die gebou slaap nie, is al die slotte toegesweis.
"Net Maandag 23 Mei is hier weer 'n man in die straat beroof, die arme man het nie eens moeite gedoen om vir hulp te vra nie en net aangeloop toe hy klaar beroof is," sê Botha. Redelinghuys het ook vir Oudtshoorn Courant gewys waar die lugverkoeller stuk-stuk weggedra word.
"Hulle steel alles hier af, ek is raadop."
So sê die polisie
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, reageer die polisie wel op klagtes van die publiek.
"Die eienaar is al gekontak, maar hy stel nie belang om 'n saak teen iemand te maak nie.
"Die Oudtshoorn-polisie is wel bewus dat die perseel stuk-stuk weggedra word. Visser sê ook verder dat indien mense wel die gebou betree, hulle eers kan optree indien die eienaar 'n klag lê.
Die rommel om die gebou moet weekliks deur die munisipaliteit verwyder word.
Volgens Visser is daar nie 'n noemens-waardige toename in die misdaad in die omgewing nie en kan hy ook nie sê hoeveel skade in die omgewing aangerig is nie.
Aanbod op gebou is al gemaak
Davel het al op 'n vorige geleentheid met die eienaar, Ray Cock, kontak gemaak.
"Ek het 'n paar maande gelede met die eienaar kontak gemaak en 'n skriftelike kontant aanbod aan hom voorgehou, maar hy het dit nie aanvaar nie."
Cock het wel aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy die gebou wil verkoop, maar het teen druktyd nie op ander vrae gereageer nie.
Alles in die gebou is deur kwaaddoeners verwyder. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'