OUDTSHOORN NUUS - Vier blinde jeugfietsryers het hierdie week vir die heel eerste keer in Oudtshoorn aan 'n SA fietsrykampioenskap deelgeneem.
Hulle kon danksy Johann Bekker, oudfietsryer, en Corné Bence, voorsitter van Wes-Kaap Fietsry en nasionale keurder, deel wees van die jaarlikse SA Jeugfietsrykampioenskappe wat in Oudtshoorn aangebied is.
Oudtshoorn Courant het hierdie week met Bekker gesels wat tans 'n groep van 22 jong fietsryers met siggestremdhede afrig.
Volgens hom is van die jong ryers heeltemal blind, maar die vier wat aan die SA kampioenskappe deelneem, het tussen 10% en 20% sig.
Bekker het aanvanklik as gids vir volwasse fietsryers met siggestremdhede opgetree. "Ek het egter besef dat daar geen platform is om jong fietsryers wat blind is, die geleentheid te gun om ook fiets te ry nie en in 2023 het ek die eerste tandemfiets aangeskaf."
Bekker sê die totstandkoming van Ride de Friends, die fietsryklub vir kinders met siggestremdhede, is eintlik te danke aan sy 15-jarige seun, Sebastian. "Hy het vir my gesê hy wil graag iets vir jeugfietsry doen soos wat ek gedoen het toe ek blinde ryers begelei het, en daar het dit begin. Hy en my dogter, Isabel, wat nou 12 is, tree op as gidse vir blinde ryers. "
Vir Corné Bence is die deelname van die vier jong fietsryers 'n mylpaal wat bereik is.
"Met die tandemfietse waar 'n gids voor sit met die siggestremde fietsryer agter, word fietsry nou vir jong mense wat blind is moontlik gemaak en hierdie is die heel eerste geleentheid waar hulle aan 'n SA kampioenskap kan deelneem. Hierdie inisiatief van Sebastian en Johann het gegroei en ek glo dit gaan nog verder groei met die hulp van toegewyde fietsry-entoesiaste en vrywilligers."
Die vier fietsryers wat Woensdagoggend aan hul eerste SA tydtoets by Highgate-volstruisplaas deelgeneem het, is Keisha Matthys (13), Hlumelo Nciza(11), Ovayo Kondile (17) en Enoch Chauke (19). Die gidse wat die ryers onderskeidelik vergesel is, Isabel Bekker (12), Ethan Rank (17), Sebastian Bekker (15) en Ryno van Wyk (18).
Bekker sê dat daar talle uitdagings is, maar dat hy dikwels verstom is oor mense se goedhartigheid en vrygewigheid.
"Die koste om die fietsryers na byeenkomste te neem is duur, want dit is twee ryers per fiets wat akkommodasie en uitrusting moet kry, maar dan kom daar byvoorbeeld iemand wat vir ons fietsryhelms wat omtrent R1 000 elk kos, aanbied vir R80.
Hy het vanjaar vir die eerste keer 'n groep van ses siggestremde fietsryers ingeskryf vir die Cape Town Cycle Race, wat voorheen as die Argus bekendgestaan het.
Sy visie vir Ride de Friends is om stelselmatig ook jongmense met fisiese en ander gestremdhede by fietsry betrokke te kry.
"Ons kan sien watter geweldige verskil dit in ons blinde ryers se lewens maak en ons wil graag aan ander kinders met gestremdhede dieselfde geleenthede bied."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’