OUDTSHOORN NUUS - Patrick Blaauw, voorsitter van Oudtshoorn se gemeenskapspolisiërings-forum (GPF), is tot uitvoerende lid van die Wes-Kaapse Provinsiale GPF verkies.
Blaauw het 'n passie vir gemeenskaps-veiligheid en glo dat hy 'n verskil kan maak. Volgens hom is hy steeds voorsitter van die Oudtshoorn GPF en is hy opgewonde om die plaaslike, sowel as die provinsiale gemeenskap te dien en te help met misdaadbekamping.
Blaauw het hom oor die jare tot gemeenskapsveiligheid verbind en is vyf jaar gelede as voorsitter van die plaaslike GPF verkies.
"My aanstelling was en is steeds een met baie uitdagings.
"Om goeie strukture en vennootskappe daar te stel is een wat baie moeite, geduld en vertroue verg."
Volgens hom is hy in 2022 verkies as ondervoorsitter van Eden-GPF en was ook later voorsitter van die komitee.
Sy aanstelling as uitvoerende lid van die Wes-Kaapse Provinsiale GPF spruit uit 'n provinsiale komiteevergadering wat daar oor die naweek van 23 tot 24 Februarie in George gehou is.
"Alle distriksvoorsitters was teenwoordig. Dit was 'n strategiese beplanningsessie wat oor gemeenskapsveiligheid vir die volgende vyf jaar gehandel het.
"Dit is 'n reuse-uitdaging om misdaad-bekamping op provinsiale-, distriks en plaaslike vlak aan te spreek, maar ek vertrou met die Heer se genade dat ek instrumenteel kan wees in ons missie om veilige omgewings te kan help skep vir mense."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’