OUDTSHOORN NUUS - Die I surrender-Christengroep se lofprysing- en aanbiddingsdag met die tema, Bring terug die Hoop is Sondagmiddag by die Queens Mall se parkeerarea goed ondersteun.
Toegang was gratis en mense mag dié biddag slegs vanuit die veiligheid van hul motors ervaar het. Sondag se verrigtinge het vanaf 16:00 tot 18: 00 geduur en is regstreeks deur EDENfm uitgesaai.
Evangelis Ranger Grebe het die diens geopen met Skriflesing en gebed, en in sy preek het hy veral klem op die waarde van geloof gelê.
"Sonder absolute geloof kan ons nie die reuseberg in die vorm van die Covid-19-virus voor ons uitklim nie. Volhard in jou geloof en voltooi jou berg, tree vir tree."
Grebe het ook almal teenwoordig aangemoedig om kalm te bly midde die lewensbedreigende en finansiële uitdagings wat hulle in die gesig staar. "Solank jy asemhaal is daar hoop, want Jesus is jou suurstof," het hy gesê.
Tussendeur die verrigtinge het die sangpaar, Stephan en Hanneke Stander die gehoor in 'n geestelike luim meegevoer met gewilde gospelliedjies soos Hoe groot is u en Loof Hom, Prys Hom terwyl die motors se toeters in waardering en erkenning weergalm het.
Die biddag is afgesluit met nagmaal wat voorafgegaan is deur Christelike-liedere wat op die groot skerm via YouTube gespeel is. Grebe het gesê dat die details oor die volgende openbare inry-biddag in die komende weke bekendgemaak sal word sodra die nodige reëlings in plek is.
Meer as 50 motors het opgedaag om die biddag by te woon.
Hanneke en Stephan Stander. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'