OUDTSHOORN NUUS - Daar heers groot ongelukkigheid onder plaaslike onderwysers nadat dit bekend geword het dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) beoog om 2 407 onderwysposte te sny in 2025.
Die nuus is op 30 Augustus bekend gemaak aan skole deur die WKOD. Brent Walters, die hoof van die departement het skole skriftelik in kennis gestel oor die besluit. Die departement het wel in persverklarings genoem dat hulle alles in hul vermoë doen om te veg vir hul onderwysers om hul werk te behou. Volgens David Maynier, LUR van onderwys, het die provinsie weens die voortslepende begrotingsbesnoeiings net 64% van salarisbegroting wat op nasionale vlak beding is, gekry het. Hy moes dus noodgedwonge dus 36% self finansier wat 'n begrotingstekort van ongeveer R3,8 miljard beteken.
Ouers in Oudtshoorn het dadelik hieroor begin betoog aangesien dit nie net hul as leerkragte raak nie, maar die skole, asook leerders.
Tania Colyn, mediawoordvoerder vir Maynier, noem egter in 'n persverklaring dat die departement vir hul onderwysers sal veg. "Onderwysers is ons grootste bate en om poste te sny gaan 'n negatiewe impak op onderwys hê."
Die departement is bewus van onderwysers wat tans teen die besluit betoog. "Om te betoog gaan nie die feit dat die WKOD ingedoen word deur die nasionale regering nie. Die situasie is krities, as ons nie drastiese stappe neem om die drastiese tekort aan te spreek nie, gaan die departement nie hul rekeninge kan betaal nie, wat salarisse van onderwysers insluit."
Colyn verduidelik verder dat die enigste manier om die gaping te snoei is om voedingsprogramme, asook skoolvervoer in te kort en is die departement nie bereid om dit te doen nie, veral nie omdat dit direk arm gemeenskappe sal beïnvloed. Daarom is daar besluit om eerder onderwysposte in die provinsie te verminder.
"Ons het reeds R2,5 biljoen besnoei in ons begroting op nie-personeel spandering, insluitende drastiese besnoeiing aan die #BackOnTrack-programme begroting.
"Die departement hoop dat onderwysunies eerder saam met die departement die geveg sal opneem, in stede daarvan om teen die departement te draai.
Oudtshoorn Courant was in gesprek met Loretta Reyneveld, 'n plaaslike ouer hieroor. Volgens haar het hul reeds by meeste skole in Oudtshoorn gaan betoog. "Buiten dat onderwysers hul werk gaan verloor, wat gaan word van die studente wat tans onderwys studeer? Moet hulle nou in ander provinsies gaan werk soek of wat?" Volgens haar is dit onaanvaarbaar dat die nasionale regering die besluit geneem het en sal hul graag wil weet waar al die surplus geld heen is? "Nou moet onderwys hierdeur lamgelê word, dit is onaanvaarbaar en bitter onregverdig."
Intussen het die WKOD aangekondig dat hul nie die nasionale besluit sal ondersteun nie en beoog om dit hand en tand te beveg. Hul win ook tans regsadvies hieroor in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’