PRINS ALBERT NUUS - Die besoekersentrum wat op Donderdag 16 Oktober in Prins Albert heropen is, is veel meer as bloot 'n toerismekantoor. Die sentrum, wat amptelik deur dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, toerisme en ekonomiese ontwikkeling geopen is, is deel van die dorp se uitgebreide handelsmerk- en herposisioneringswerk vir toerisme.
Die proses het in Augustus 2024 begin met die fokus op die vernuwing van toerismebemarking vir die dorp.
Nadat die toerismekantoor vir 'n geruime tyd gesluit was, het die munisipaliteit in April vanjaar aangekondig dat dit weer sou oopmaak, maar as 'n besoekersentrum.
Volgens adv. Thys Giliomee, munisipale bestuurder van die dorp is daar 'n hernude fokus op toerisme, nie net van die munisipaliteit en toersimevereniging se kant af nie, maar ook van Meyer. Tydens sy besoek aan die dorp in Februarie 2025 is die dorp se potensiaal en geleenthede aan hom voorgelê en hy het verskeie mense wat betrokke was ontmoet en sy steun aan die projek toegesê.
Die bemarkingsveldtog van die dorp staan bekend as, I am a living story en vertel die storie van Prins Albert deur die stemme van die dorp se mense, erfenis, natuur en gebeure.
Vier van die inwoners het Donderdagmiddag in The Showroom hulle stories vertel as deel van die opening. Die oudste inwoner wat aan die woord was, was die 93-jarige Alfred Voetpad.
Die besoekersentrum is 'n gesamentlike projek van die munisipaliteit en die Prins Albert-toerismevereniging. Die munisipaliteit het die gebou beskikbaar gestel en die opgraderings gedoen, terwyl die beplanning en inhoud vir die uitstalling hoofsaaklik deur die toerismevereniging gedoen is.
As daar egter gekyk word na die aantal inwoners en organisasies wat ook betrokke was by die totstandkoming van die sentrum, is dit duidelik dat hierdie ook soos talle ander inisiatiewe in die dorp in wese 'n gemeenskapsprojek is.
Die sentrum is elke dag van die week oop en die pos is 'n gedeelde pos met die munisipaliteit wat iemand aangestel het om die sentrum gedurende die week te beman en oor naweke word dit deur 'n personeellid van die toerismevereniging beman.
Die besoekersentrum is in die dorp se hoofstraat, reg langs die Fransie Pienaar-museum geleë. Vir enige inligting oor Prins Albert as toerismebestemming kontak die besoekersentrum by 066 158 5512 of tourism@princealbert.org.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’