OUDTSHOORN NUUS - Die eienaars van 'n bakkery in Oudtshoorn sit met die hande in die hare oor 'n tenderaar wat hulle R32 000 skuld vir brood wat aan korrektiewe dienste gelewer is.
Volgens Jaco Vorster en Johan van Heerden, eienaars van Camp Bakery, het Elvira Pieterse hulle aan die einde van Junie genader vir 'n kwotasie om brood aan die gevangenis te lewer. Sy het gesê haar onderneming, Slate General Trading, het die tender vir brood bekom.
"Ons het bevestig dat sy die tender ontvang het en die brood daagliks by korrektiewe dienste gaan aflewer. Pieterse het die twee rekeninge van die eerste twee weke se brood in twee bedrae van R11 325 en R14 947 vereffen.
"Daarna het ons vir drie weke brode afgelewer, maar sy het ons nie betaal nie," het Vorster hierdie week gesê. Die bedrae vir die drie weke se brood was R13 035 (15 Julie), R12 990 (22 Julie) en R5 595 (29 Julie).
Volgens hom moes hulle Pieterse verskeie kere nader oor die geld en hulle het bevestiging van korrektiewe dienste gekry dat Pieterse reeds betaling ontvang het vir die drie weke se brood.
"Sedertdien probeer ons die afgelope maand ons geld by Pieterse kry, maar sy het die een verskoning na die ander. Volgens haar is die R32 000 wat sy getrek het om ons te betaal, uit haar huis gesteel."
Hy verduidelik hulle het die vergunning ten opsigte van betaling gemaak omdat hulle waar moontlik, probeer om inisiatiewe uit die gemeenskap en entrepreneurskap te ondersteun.
Pieterse se weergawe
Die Oudtshoorn Courant het Pieterse telefonies gekontak om haar kant van die saak te hoor. Volgens haar het sy geld by die bank getrek om die bakkery te betaal.
"Maar ek was ongemaklik, want die kassiere het snaaks opgetree. Skaars vyf minute na ek die geld getrek het, het ek 'n WhatsApp van Camp Bakery gekry om te sê hulle weet ek het geld getrek en ek moet kom betaal."
Volgens haar het sy toe besluit om eers weer terug te gaan bank toe om die "snaakse" toeval aan te meld. Sy beweer dat sy eers die volgende dag op pad bank toe was en met haar terugkeer het sy besef haar geld is gesteel.
Sy het nie uitgebrei oor die beweerde diefstal nie, maar erken dat sy geen klag by die polisie gaan lê het nie.
Sy het ook nie Camp Bakery laat weet dat die geld gesteel is nie. Sy het dit eers genoem toe hulle druk op haar uitoefen om die rekening te vereffen.
Volgens die finansiële bestuurder het haar WhatsApp-boodskap, wat sy aan die Oudtshoorn Courant gewys het nie gegaan oor Pie-terse se onttrekking van geld nie.
"Ons het na baie moeite by korrektiewe diens-te bevestiging gekry dat Pieterse reeds vir al die bestellings betaal is, en toe het ek vir haar 'n boodskap gestuur om te sê ons weet sy is reeds betaal en dat sy dringend ons rekening moet vereffen."
Pieterse het by navraag gesê dat sy oor geen oorbruggingskapitaal beskik het toe sy die tender ontvang het nie. Sy het gesê sy is besig om maniere te vind om die geld terug te betaal.
Tenderprosesse is afgewater
Volgens 'n sakeman met uitgebreide sakebelange in die Suid-Kaap, wat verkies om anoniem te bly, is die huidige tenderproses afgewater en 'n teelaarde vir probleme.
"Enige persoon van die straat af kan 'n besigheid stig, tenderdokumente invul en voorlê solank daar aan BEE-vereistes voldoen word. Dit is 'n resep vir mislukking, want niemand bevestig of die persoon enige kennis het oor dit waarvoor getender word nie."
Volgens hom is baie tenderaars deesdae niks anders as middelmanne met geen kennis, ervaring of kapitaal nie. Die nadeel hiervan sê hy, is dat dienste die staat duurder kos, want die middelman sit 'n wins by en dan gebeur dit ook dat die geld nie by die verskaffer uitkom nie.
Wat hulle situasie betref, sê Vorster en Van Heerden dat hulle voortaan geen dienste aan individue sal lewer as daar nie vooraf betaal word nie. "Dit is jammer, want daar is mense wat nie vooruit kan betaal vir groot bestellings nie, maar die wins op iets soos brood is so klein dat 'n verlies van R32 000 vir ons werklik groot skade is."
Hy waarsku ander besighede om nie in dieselfde strik te trap nie. Volgens hom besluit hulle nog oor optrede teen Pieterse.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'