OUDTSHOORN NUUS - Ses voormalige werkers van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat werksbeserings opgedoen het, is erg ongelukkig omdat die munisipaliteit, volgens hulle, nie die nodige aandag aan hul situasie gee nie.
Volgens John Jansen, kry al ses van hulle nog steeds hul salarisse, maar is hulle nou woedend omdat die munisipaliteit sloer om te verseker dat hulle vir hul beserings vergoed word. Jansen het sy linkerhand in 2017 in ‘n masjien by die Dysselsdorp-rioolwerke verloor en het tot dusver nog nie vergoeding ontvang nie.
Nico Manuel vertel dat hy in 1998 sy borskas gebreek en in 2016 ‘n laerugbesering opgedoen het. Hy is in 2017 ongeskik verklaar vir werk.
Juanita Jaftha het in 2016 ernstig seergekry toe ‘n vragmotor van die munisipaliteit byna omgeslaan het. Sy is met beserings na die Oudtshoorn-hospitaal en het later ‘n operasie in die George-hospitaal ondergaan.
Volgens Robert Ntisimane was hy ‘n messelaar by die Oudtshoorn-rioolwerke toe hy ‘n swaar deksel opgetel en sy rug beseer het. In 2017 het hy weer aan ‘n mangat in Rocky Hill gewerk toe ‘n kabel losgeskiet en sy een oog getref het. Hy is nou blind in die oog.
Francois Brits was werksaam by reinigingsdienste toe hy in 2015 sy rug en ribbes beseer het terwyl hy besig was om vullis in ‘n vullisverwyderingsvoertuig in te voer.
Natasha Jullies het op 1 Mei 2017 seergekry en is in Augustus 2017 van die werk afgesit.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit sê by monde van Aurelia Oliphant, kommunikasiebeampte, watter stappe gevolg word wanneer dit kom by werksbeserings.
Die riglyne soos bepaal in terme van die COIDA Wet (Compensation for Occupational Injuries and Diseases Act) Wet 130 van 1993 word streng deur die munisipaliteit gevolg.
Beserings word onmiddellik by die departement van arbeid geregistreer en die beseerde word na ‘n dokter en later indien nodig na ‘n spesialis verwys.
Die werkgewer betaal jaarliks die aanslag (Return of earnings: ROE) soos bepaal deur die departement van arbeid.
Volgens Oliphant is dit ‘n lang proses voordat vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid bereken kan word.
Artikel 35 van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes maak voorsiening vir sekere vasgestelde voordele soos redelike mediese behandeling, vergoeding vir verlies aan inkomste, vergoeding aan naasbestaandes in gevalle van sterftes aan diens en vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid.
Laasgenoemde word slegs toegeken vir verlies aan liggaamsdele en liggaamsfunksie en vir ernstige verminking.
Vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid hang af van die mediese bewysmateriaal wat in die vorm van mediese verslae aan die Vergoedingsfonds voorgelê word.
Dit is voorts van kardinale belang dat alle toestande van blywende aard tot in die fynste besonderhede in die finale mediese verslag beskryf word en dat indien nodig, dit verder met foto’s en ander verslae deur deskundiges toegelig word.
Die finale mediese verslag moet eers voltooi word wanneer mediese behandeling ‘n plato bereik het en die toestand dus stabiel is. Stabilisasie beteken dat mediese behandeling nie die toestand van die persoon verder kan verbeter nie. Vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid kan dus eers op hierdie stadium bereken word.
Die ongelukkige oudwerkers van die Oudtshoorn-munisipaliteit is voor Robert Ntsimane (links) en John Jansen. Agter: Joey Canary (gemeenskapswerker), Natasha Julies, Nico Manuel, Francois Britz en Juanita Jaftha. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'