OUDTSHOORN NUUS _ Personeel van die Helen Bellinganhof-tehuis vir bejaardes het Donderdag 11 Desember tydens 'n spesiale geleentheid by die tehuis amptelik afskeid geneem van sr. Colleen Fourie, voormalige hoof van Bellinganhof.
Dr. Michelle van Bommel het die verrigtinge waargeneem, waartydens Fourie met geskenke en goeie wense bederf is. Personeellede het daarna saamgekuier en 'n heerlike middagete aan keurig gedekte tafels geniet.
In haar afskeidsboodskap het Fourie die gedig, This is where I found God, aan die personeel opgedra en beklemtoon dat verpleging 'n roeping van die hart is. "Hierdie gedig som die werk van 'n verpleegster op, en ek groet julle vandag hiermee uit die diepte van my hart," het sy gesê.
Fourie was sewe en 'n half jaar lank aan die hoof van Bellinganhof en het einde November amptelik afgetree. Van Bommel het reeds op 1 November die leisels by haar oorgeneem, nadat sy reeds in 2024 as aflossuster by die tehuis begin werk het.
Ten slotte het Fourie met 'n glimlag gesê: "Ek is beslis nie klaar met Bellinganhof nie. My hart lê nog hier. Ek sal Bellinganhof nooit net kan afskryf nie." Sy sien nou uit na 'n nuwe hoofstuk saam met haar man, met die gemoedsrus dat die tehuis in bekwame hande agterbly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’