DYSSELSDORP NUUS - Een van die kontrei se groot sportgeeste, Levesto le Roux, is verlede week na 'n kort siekbed oorlede. Le Roux, boorling van Dysselsdorp en ook bekend as 'Meester', was ten tyde van sy heengaan adjunkhoof by St. Konrad Primêr in Dysselsdorp.
As sportfanatikus was hy betrokke by SWD-krieket, voorsitter van Safa (South African Football League) sowel as Eden-sokkerliga.
Volgens Le Roux se dogter, Nashley le Roux, was haar pa op die oog af 'n redelike gesonde mens wat selde oor gesondheidsprobleme gekla het.
"Selfs die naweek voor sy hospitalisering was hy by 'n sokkertoernooi in Mosselbaai. Toe hy terugkeer het hy egter gesê dat hy nie lekker voel nie. Dis toe dat ons daarop aangedring het dat hy liewers 'n dokter moet spreek waarna hy die Sondagaand in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem is. Die Woensdagaand het sy toestand egter so verswak dat die dokter ons ingeroep het. Hy was deurentyd in 'n semi-koma terwyl ons by sy bed afskeid geneem het.
"Vir ons as familie was dit 'n groot skok omdat hy baie min in sy lewe siek was. Sy sport-nalatenskap en liefde vir ons as sy kinders sal ons altyd bybly."
Nashley vertel dat die familie hul pa as 'n baie regverdige en saggeaarde persoon beskou wat altyd sy opinie in 'n duidelike sonder-doekies-omdraai-houding bekendgemaak het.
Volgens haar het hy soveel liefde vir mense gehad dat hulle hom altyd as die pa van die gemeenskap beskou het.
Le Roux se begrafnis is Saterdag vanaf 09:00 by St. Konrad kerk in Dysselsdorp. Hy word deur sy vrou, Debbie le Roux en kinders Nadeema, Levio-Dane, Dwayne Keano en drie kleinkinders oorleef.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'