OUDTSHOORN NUUS - 'n Boek oor die Klein-Karoo verskyn vroeg volgende jaar uit die pen en kamera van die bekroonde skrywers, Julienne du Toit en Chris Marais.
Dié skrywerspaar met meer as 50 jaar ondervinding in joernalistiek en die boekewêreld, se reeks boeke oor die Karoo is wêreldbekend.
Benewens hulle 15 boeke en stories en foto's van 101 dorpe, het daar reeds 626 van hulle artikels in verskeie tydskrifte en platforms soos Getaway, Weg/Go, SA Country Life, The Guardian, Litnet, en National Geographic Online verskyn.
Nou is die twee besig met die vyfde boek in die Karoo Roads-reeks en in hierdie een is die fokus op die Klein-Karoo. Julien en Chris het verlede week Oudtshoorn besoek en ongeveer vier dae hier deurgebring om plekke soos die CP Nel-museum, Le Roux-dorpshuis, Arbeidsgenot, die Kango-grotte en nog 'n aantal besienswaardighede in die omgewing te besoek as deel van hulle navorsing.
Oudtshoorn Courant het hulle ontmoet toe Mariana Swanepoel, Langenhoven-kenner en voormalige gids, hulle deur Arbeidsgenot geneem het. Terwyl Julienne opnames van Mariana se vertellings gemaak het, het Chris die kamers in die huis besoek en honderde foto's geneem.
Hy is 'n gesoute fotojoernalis wat in sy loopbaan uit 50 verskillende lande wêreldwyd verslag gedoen het. Saam met Julienne, 'n omgewingsjoernalis, het hulle al verskeie toekennings vir hulle publikasies ontvang.
Hy verduidelik dat navorsing vir die boek oor die Klein-Karoo, die vyfde in die reeks, Karoo Roads, twee jaar gelede begin het. "Ons is reeds twee jaar besig met ons navorsing in die Klein-Karoo en dit is 'n absolute vreugde. Hier is soveel interessante mense, plekke en stories wat ons wil gebruik."
"Ons verwag dat die boek teen Mei of Junie volgende jaar gereed sal wees vir die rakke en dan gaan ons 'n aantal bekendstellings in verskillende dorpe in die Klein-Karoo hou. Een van die eerste bekendstellings sal beslis in die CP Nel-museum gehou word," het hy gesê.
Dorpe wat in Karoo Roads verskyn sluit in Oudtshoorn, De Rust, Klaarstroom, Dysselsdorp, Uniondale, Calitzdorp, Van Wyksdorp, Ladismith, Barrydale en Montagu asook plekke soos die Kango-grotte, Kruisrivier en ander verrassings op kantpaadjies.
Chris en Julienne woon in Cradock en behartig self die publikasie van al hulle boeke. Vir albei is dit die stories van plekke en mense wat hulle aantrek, want hulle glo stories bring mense van uiteenlopende agtergronde bymekaar en dra by om die ryk erfenis van die land te behou. Vir meer inligting oor hierdie merkwaardige reisende skrywers en die honderde foto's en artikels wat hulle reeds gelewer het, besoek gerus hulle webtuiste, Karoo-Space.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’