OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se bekendste skrynwerkers, 'n dierbare, saggeaarde, vredeliewende en vriendelike persoon, Harold Paulsen, is op Dinsdag 28 Februarie na 'n kort siekbed oorlede en word komende Saterdag ter ruste gelê.
Paulsen, ook bekend as 'Boetie', het na sy skoolloopbaan sy opleiding as skrynwerker by die destydse Rooms Katolieke-broeders in Noordeinde-woonbuurt ontvang.
Hy het van kleins af spykers en stukkies hout bymekaargemaak en klein modelletjies gebou, vandaar die liefde vir houtwerk.
Hy het vinnig geleer en sy eerste hamer by Japie Coetzee se pa, ook 'n skrynwerker, ontvang om sy werk te begin.
Volgens Paulsen se vrou, Mary, het haar man sy talent vir byna 64 jaar uitgeleef.
"Harold het die preekstoel, nagmaaltafel asook die deure van sy kerk, die Weyers Memorial United Congregational Church, gemaak en die deure self gehang.
So het hy ook nagmaaltafels vir die Toekomsrus en Petrusville Congregational Church gemaak asook die orrelstoel vir die Toekomsrus-kerk.
Oudtshoorn se gemeenskap, besigheids-plekke en kerke kan dus getuig van sy fyn vakmanskap.
Paulsen het volgens sy eggenote sy lewe ook gegee vir die werk van die Here.
"Harold het saam met groot, sterk manne op die kerkraad van die Weyers Memorial Church begin dien en die dorp in verskillende wyke bedien asook die gemeente te Volmoed.
"Hy het 'n paar jaar gelede 'n spesiale sertifikaat van die kerk ontvang vir sy dienste."
Paulsen het oral saam met sy vrou beweeg. Soveel so dat die Kinderbediening van die Outeniqua-streek en die sinode, hom al aanvaar het as deel, omdat hy altyd aan sy vrou se sy was.
Hy laat sy vrou, twee seuns, Anton en Selwin, twee dogters, Felicity en Lelani, vyf kleinkinders en een agterkleinkind agter.
Hy word Saterdag om 10:00 vanuit die Weyers Memorial Church begrawe na 'n huisdiens om 09:00 te Sesdelaan 31, Colridge View.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nus'