OUDTSHOORN NUUS - Die Nasionale Uitvoerende Raad van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV), asook sy lede, het met groot hartseer kennis geneem van die afsterwe van Jacobus Andries 'Boeboe' Meyer (TDK) op 8 Junie.
Meyer is in Oudtshoorn gebore en was 'n bekende en gerespekteerde sakeman en die eienaar van Meyers Body Repairs, 'n onderneming wat hy vir meer as 21 jaar suksesvol bedryf het. Voordat hy sy eie besigheid gevestig het, het hy as jong man vir 'n tydperk by Fanie's Bakwerke gewerk.
Volgens Duffy Snyman, Meyer se broer, het Meyer met groot deursettingsvermoë 'n hoekperseel met 'n klein woning aangekoop en dit oor die jare ontwikkel tot 'n goed versorgde eiendom. Die perseel is stelselmatig uitgebrei met verskeie geriewe, waaronder 'n swembad, buitelugonthaalarea en drie woonstelle. Hierdie ontwikkeling getuig van sy harde werk, toewyding en ondernemingsgees.
Kliënte en vriende onthou Meyer as 'n man wat besondere trots op sy werk en omgewing gehad het. Hy was bekend daarvoor dat alles op sy perseel netjies en op sy plek moes wees.
"Daar is dikwels met 'n glimlag vertel hoe hy selfs die kleinste klippie wat uit plek was, reggeskuif het."
Ten spyte van sy dood sal Meyers Body Repairs voortgaan om diens aan die gemeenskap te lewer.
Volgens Snyman was dit Meyer se droom dat die onderneming moet voortbestaan. Sy dogter, Michelle, bestuur reeds die afgelope drie maande die besigheid en haar pa was besonder trots op haar betrokkenheid en toewyding.
Familie, vriende en kliënte beskryf Meyer as 'n vriendelike en behulpsame persoon wat dag en nag bereid was om ander by te staan. Hy het graag raad gegee, maar was ook iemand wat kon luister wanneer mense hom nodig gehad het.
Buiten sy werk het hy die eenvoudige dinge in die lewe geniet. Hy was lief vir die see, kampeer en tyd saam met sy geliefdes. Hy het ook 'n bekende soet tand gehad en het tot in sy laaste dae nog sy geliefde lekkers en sjokolade geniet.
"Hoewel sy gesondheid die afgelope tyd agteruitgegaan het, het Meyer 'n vol en betekenisvolle lewe gelei en laat hy 'n nalatenskap van harde werk, diensbaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid agter.
"Sy afsterwe laat 'n groot leemte in die Oudtshoorn-gemeenskap en by almal wat die voorreg gehad het om hom te ken."
Hy word oorleef deur sy moeder, twee susters, 'n broer, sy vrou, seun en dogter. Sy vader is reeds oorlede.
Meyer se begrafnis het Saterdag 13 Junie vanuit die Worship of Life-gemeente plaasgevind waarna 60 genooide gaste middagete saam geniet het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’