OUDTSHOORN NUUS - Die dood van een van Oudtshoorn se bekendste bouers, Hermanus Sarels (69), alom bekend as Oom Manie, het die gemeenskap geskok.
Shumelia Lewis, een van Sarels se twee dogters, sê haar pa is op 24 Desember 2024 in die hospitaal opgeneem nadat hy begin kla het oor maagpyn. Hy is vier dae later na die George-hospitaal oorgeplaas nadat komplikasies ingetree het. Hy is later oorgeplaas na die intensiewe-eenheid waar hy vir nierprobleme behandel is. Hy het op Nuwejaarsdag gesterf.
"My pa het baie uitgesien na sy 70ste verjaardag wat op 25 Februarie sou wees, en het altyd gesê die jare daarna is genadejare. Ongelukkig het hy dit nie gemaak nie. Sy geliefste Bybelvers was 11 Korinthiers 12:9."
Sarels, 'n boorling van Rietbron, het na 'n haelstorm in 1993 saam met 'n vriend, Phillip Swigelaar, 'n konstruksiemaatskappy, Sani, gestig en begin om beskadigde huise te herstel.
Die naam is later verander na Philmano Konstruksie, en dié twee het oor die jare talle huise en geboue in Oudtshoorn opgerig wat soos monumente van hul handewerk in die dorp pryk. Hieronder tel die Bridgton-sportstadium, asook die saadkantore in St. Johnstraat wat hulle saam met Manus Blignault gebou het.
Volgens Shumelia was die laaste bouwerk haar eie huis wat feitlik voltooi is. Sy het haar pa en Swigelaar die week as vinkel en koljander, die een is soos die ander, beskryf.
Sarels laat sy vrou, Eveline, met wie hy 47 jaar getroud was, twee dogters, Peuney Weilbach en Shumelia Lewis, twee seuns, Winston en Wayne en agt kleinkinders en een agterkleinkind agter.
'n Gedenkdiens word Donderdagaand om 19:00 in die Bridgton VGK gehou, waar die begrafnisdiens ook Saterdag, 11 Januarie om 10:00 sal plaasvind.
Die huisdiens te La Plume in Langenhovenweg, begin om 09:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’