OUDTSHOORN NUUS - Die munisipaliteit neem die bekamping van bek-en-klouseer ernstig op en volg alle voorgeskrewe maatreëls om verspreiding te voorkom, het die direkteur van gemeenskapsdienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Ian Avontuur, verlede week gesê.
Avontuur het gereageer op 'n navraag van Oudtshoorn Courant nadat kommer in die raadsaal uitgespreek is oor die stappe wat geneem word om losloperdiere te beheer na die eerste voorval van bek-en-klouseer vroeg in Mei tussen Oudtshoorn en De Rust aangemeld is.
Raadslid Johan Fourie het twee weke gelede gevra of die munisipaliteit stappe volg om te verhoed dat die siekte deur loslopende diere versprei word.
In sy reaksie sê Avontuur dat die munisipaliteit die 21-punt plan van die Wes-Kaapse regering nougeset volg om bek-en-klouseer te beperk sowel as om die ekonomie en werksgeleenthede te beskerm.
"Sedert die aanmelding van bek-en-klouseer op een plaas in die Oudtshoorn-munisipale area was die munisipaliteit se reaksie goed gekoördineer en in lyn met nasionale standaarde om plaaslike kuddes te beskerm."
Wat losloperdiere en die rol van die skut betref, het Avontuur gesê, speel die skut 'n kritieke rol om bek-en-klouseer te bekamp deur die beweging van diere asook die onwettige vervoer van diere te beperk.
Hy sê ook dat daar geen noemenswaardige toename in losplopende hoefdiere in die munisipale area opgemerk word nie, en dat daar nie tans enige dringende redes is vir die uitbreiding van die munisipale skut nie.
"Ons prioriteit as munisipaliteit bly om die verspreiding te beperk deur gereelde voertuiginspeksies by aangewese punte te doen. Hierdie punte is deel van die noodmaatreëls om verspreiding van bek-en-klouseer te beperk."
Dokter Cathy Fox, Oudtshoorn se staatsveearts, het dié week gesê dat geen nuwe voorvalle intussen aangemeld is nie.
"Die situasie is tans stabiel, ons wag nog net op die resultate. Die vloede en paaie wat verspoel het maak dit bietjie moeilik om by die geaffekteerde area uit te kom, hoewel ons reeds daar was. Daar is ook nog geen nuwe voorvalle in ons area aangemeld nie."
Fox sê egter dat boere steeds waaksaam moet wees.
"Moenie diere onnodig skuif nie en hou hekke sover moontlik toe."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’