KLEIN KAROO NUUS - Die hande van die vurige lede van die Volmoed-bejaardeklub op Zoar staan vir niks verkeerd nie. Die groep se vlytige vingers sorg vir 'n aantal tuisgemaakte produkte wat ideale Kersgeskenke is.
Jonathan Jantjies, leier van die groep, vertel: "Ons kry opleiding in Stellenbosch en George. Ons lede is gretig om te leer en leer vinnig. Ons het al opleiding gekry in die maak van chutney en konfyt en ons het so onsself bekwaam om ons eie fetakaas en jogurt hier in Amaliënstein te maak."
Die klublede vergader weekliks en is ook bedrywig in hul gesamentlike groentetuin.
Volgens een van die lede, Magdalena Christians, het hulle ook 'n kursus in entrepreneurskap bygewoon wat deur die departement van landbou aangebied is.
"En in George het ons onlangs opleiding vir die verbouing van groente gekry en ons leer ook die jong vrouens hoe om makataankonfyt te maak."
Die groep is ook terdeë bewus van die omstandighede van veral kinders uit die woonbuurt en dra gereeld uit eie sak by om die kinders te ondersteun.
Behalwe dat die klub se produkte in verskeie winkels in Ladismith beskikbaar is, kan dit ook in Katjiepieringweg in Braklaagte, in Zoar bekom word.
'Ons bring jou die nuutste Zoar, Klein Karoo nuus'