OUDTSHOORN NUUS - Die 2024/2025-munisipale begroting is verlede Vrydag, 7 Junie, goedgekeur met 17 stemme van die DA, ANC, OGI, PA en Advieskantoor teen sewe stemme van die VF Plus, Icosa, Saamstaan en Good.
Die vergadering is verlede Maandag, 3 Junie, na Vrydag geskuif, omdat die raad teen die aanvanklike begroting gestem het. Daar is op 6 Junie 'n werksessie gehou waarin die begroting weer aan die raad voorgehou is, verduidelik is en veranderinge aangebring is.
Die VF Plus, Good, Icosa en Saamstaan se raadslede het teen die begroting gestem.
Johan Duvenhage (VF+) het gesê dat hulle nie met die nuwe begroting saamstem nie omdat die tariewe steeds te veel is vir die inwoners, en stem ook nie saam met die toilettariewe nie.
Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, het verduidelik dat die begroting na die werksessie effe aangepas is, maar dat die tesourie nie die begroting sou aanvaar as hulle dit nog moet sny nie.
"Soos die begroting tans is, is daar 'n R18 miljoen te kort. Ons kan ook net inwoners se belasting verminder indien dit nie dienslewering gaan beïnvloed nie."
Volgens hom is die kommunikasie departement se begroting met 50% gesny en kan geen nuwe personeel in enige departement aangestel word nie. Konsultante se fooi is ook met 10% verminder. Die glyskaal vir pensioenarisse is ook ten gunste van die pensionarisse aangepas en die begroting vir regskostes is ingekort.
Volgens Hannes Visser, Macpherson se woordvoerder, is die grootste vergunning wat gemaak is, die vermindering van 15% aan die skaal waarvolgens eiendomsbelasting gehef word.
"Dit is gedoen in die lig daarvan dat Oudtshoorn se onafhanklike waardasieproses wat deur wetgewing vereis word vanjaar gedoen is. Dit is belangrik om te weet dat die waardasie van eiendom tot eiendom verskil en derhalwe sal elke eiendom se belasting ook verskil. Daar gaan gevalle wees waar sommige inwoners selfs minder sal betaal as gevolg van die 15% vermindering alhoewel eiendomme se waarde gestyg het."
Volgens 'n tabel wat deur die munisipaliteit uitgestuur is, het Oudtshoorn die laagste tariefverhoging (10,25%) tussen Swellendam, Hessequa, Mosselbaai, Beaufort-Wes en Knysna.
Oudtshoorn se totale eiendomswaarde van R16,37 miljard is die derde laagste van die ses dorpe en die skaal waarvolgens eiendomsbelasting bepaal word, is 15% laer as verlede jaar.
In die tabel word die ses dorpe se eiendomswaarde, inkomste uit belasting en gemiddelde dienstegelde se begrotings vir 2024/2025 met mekaar vergelyk met die vorige jare.
Die vergelyking
- Oudtshoorn se gemiddelde eiendoms-waarde is R824 111, die totale eiendoms-waarde is R16,37 miljard, die inkomste uit belasting is R181 144 000 en die gemiddelde tarief per jaar is R65 292. In die 2024/2025-begroting is Oudtshoorn se gemiddelde tarief per maand R5 441 wat 'n 10,25% styging is in vergelyking met verlede jaar se 2023/2024-begroting met 'n gemiddelde tarief van R4 935 per maand.
- Swellendam se gemiddelde eiendoms-waarde is R1,07 miljoen, die totale eiendomswaarde is R11,42 miljard, die inkomste uit belasting is R46 412 000 en die gemiddelde tarief per jaar is R64 722. In die 2024/2025-begroting is Swellendam se gemiddelde tarief per maand R5 393 wat 'n 25% styging is in vergelyking met verlede jaar se 2023/2024-begroting met 'n gemiddelde tarief van R4 079 per maand.
- Hessequa se gemiddelde eiendoms-waarde is R1, 21 miljoen, die totale eiendomswaarde is R27, 06 miljard, die inkomste uit belasting is R137 207 000 en die gemiddelde tarief per jaar is R63 990. In die 2024/2025-begroting is Hessequa se gemiddelde tarief per maand R5 332 wat 'n 23% styging is in vergelyking met verlede jaar se 2023/2024-begroting met 'n gemiddelde tarief van R4 320 per maand.
- Mosselbaai se gemiddelde eiendoms-waarde is R1,39 miljoen, die totale eiendomswaarde is R67, 68 miljard, die inkomste uit belasting is R256 924 000 en die gemiddelde tarief per jaar is R61 993. In die 2024/2025-begroting is Mosselbaai se gemiddelde tarief per maand R5 166 wat 'n 19% styging is in vergelyking met verlede jaar se 2023/2024-begroting met 'n gemiddelde tarief van R4 334 per maand.
- Beaufort-Wes se gemiddelde eiendoms-waarde is R294 000, die totale eiendoms-waarde is R5, 05 miljard, die inkomste uit belasting is R55 152 000 en die gemiddelde tarief per jaar is R61 944. In die 2024/2025-begroting is Beaufort-Wes se gemiddelde tarief per maand R5 162 wat 'n 18% styging is in vergelyking met verlede jaar se 2023/2024-begroting met 'n gemiddelde tarief van R4 889 per maand.
- Knysna se gemiddelde eiendomswaarde is R1,76 miljoen, die totale eiendoms-waarde is R40,08 miljard, die inkomste uit belasting is R329 326 000 en die gemiddelde tarief per jaar is R77 528. In die 2024/2025-begroting is Knysna se gemiddelde tarief per maand R6 460 wat 'n 13,5% styging is in vergelyking met verlede jaar se 2023/2024-begroting met 'n gemiddelde tarief van R5 694 per maand.