Update
OUDTSHOORN NUUS - Die beendere van ses onbekende persone, wat in 1965 tydens die bou van die Hoërskool Oudtshoorn deur boukontrakteurs opgegrawe is, is verlede Donderdag na 'n heilige seremonie in die Rembrandt-saal van die CP Nel-museum, in 'n begraafplaas naby die Raubenheimerdam begrawe.
Die beendere is volgens die museumbestuurder, Moses Mthethwa, na die opgrawing deur medici gebruik vir navorsingsdoeleindes en in die tagtigerjare aan die museum geskenk waar dit tot nou bewaar is.
Uit die ses geraamtes is daar slegs drie skedels, 'n kakebeen en 'n gedeelte van een geraamte oor, wat nou herbegrawe is.
Luidens 'n berig in Oudtshoorn Courant van 1965 is die beendere sowat 1,2 m onder die grond gevind tydens uitgrawings vir die skoolgebou.
Die vermoede is dat daar 'n klein begraafplaas op die plek was. Mthethwa het die gemeenskap van Oudtshoorn bedank vir hul samewerking.
Volgens hom glo hy nie dat daar destyds behoorlike riglyne was vir die bewaring van die beendere nie en moet daar vandag vrylik daaroor gepraat word.
Hy het ook sy dank teenoor die Wes-Kaapse department van kultuursake en sport uitgespreek vir die ondersteuning en goedkeuring om die oorblyfsels te herbegrawe.
Volgens adv. Goodman Jaxa, voorsitter van die museumraad van trustees, is die historiese verhaal rondom die oorblyfsels 'n herinnering aan die verlede van Suid-Afrika.
Volgens hom is die geleentheid spesiaal omdat dit menswaardigheid herstel aan die siele van die oorledenes wie se vreedsame rus, meer as vyf dekades gelede terstond versteur is.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, het in sy boodskap wat deur die kommunikasiebeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, voorgelees is, gesê die munisipaliteit is bevoorreg om deel te wees van die geskiedkundige geleentheid wat die belangrikheid van lewens en menswaardigheid beklemtoon.
Volgens een van die Khoi-leiers, hoofman Johannes Baadjies, is onderhandelinge met die skool aan die gang om 'n gedenksteen daar op te rig.
'n Soortgelyke seremonie is reeds in April by die museum gehou waar die Wes-Kaapse minister van kultuur en sport, Anroux Marais, ook teenwoordig was. As gevolg van die streng inperkingsmaatreëls wat toe van krag was, kon die gedeelte waar die beendere herbegrawe word, egter nie afgehandel word nie.
Tradisionele leiers van Oudtshoorn dra die kis met beendere wat Donderdag herbegrawe is. Regs voor is hoofman Johannes Baadjies. Foto's: Garnett Wicomb
'n Gedeelte van die seremoniei n die Rembrandt-saal.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'