OUDTSHOORN NUUS - 'n Beperkte groep genooide gaste het Maandag 23 Maart, 'n oorhandigingseremonie van menslike oorskot by die CP Nel-museum bygewoon.
Tydens die seremonie het die museum die beendere, wat tydens die bou van Hoërskool Oudtshoorn in die sestiger jare opgegrawe is, aan die hoofmanne van verskillende Khoi-San-huise in die omgewing oorhandig.
Volgens Moses Mthethwa, museumbestuurder, was die oorskot van ongeveer ses mense destyds in 'n sittende posisie in grafte gevind. Van die beendere is vir navorsing weggestuur en die res is vir jare in die museum bewaar.
Na onderhandelinge, wat oor bykans vier jaar gestrek het, is die oorskot verlede week aan die stamhoofde oorhandig.
Die oorskot sou Saterdag 4 April tydens 'n seremonie herbegrawe word, maar met die inperking sal dit waarskynlik uitgestel word.
Die provinsiale minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, die provinsie se adjunk-direkteur van museums, Michael Jansen van Rensburg, en Colan Sylvester, Oudtshoorn-burgemeester, het tydens die seremonie gepraat en was eensgesind dat hierdie gebaar 'n noodsaaklike een is om die onreg van die verlede reg te stel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'