OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee broers van Oudtshoorn wat tereg staan op verskeie klagtes van bedrog, alternatiewelik diefstal, asook geldwassery en een van valse voorwendsel as 'n prokureur, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel vir 'n nuwe staatsaanklaer om hom daarvoor voor te berei.
Abraine Coerecius (40) en Anthony Coerecius (41) word daarvan aangekla dat hulle by ses geleenthede erwe of huise aan mense verkoop het wat hulle nie besit het nie, en die klaers hul geld kwyt is.
Abraine Coerecius word ook daarvan aangekla dat hy hom as 'n prokureur voorgedoen het. Die beweerde voorvalle het in 2016 plaasgevind.
Staatsaanklaer Willem Vister, het die hof om uitsel gevra omdat hy op kort kennisgewing die saak moes oorneem en tyd nodig het om hom daarvoor voor te berei.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die versoek toegestaan en die saak vir vier dae se verhoor, van 9 tot 12 September, uitgestel.
Sy het die klaers van wie een in Kaapstad woon om verskoning gevra vir die ongerief en verduidelik wanneer hulle geroep sal word om te getuig.
Die beskuldigdes se borg is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'