Update
BEAUFORT-WES NUUS - 'n DA-raadslid van Beaufort-Wes, Kate Elexander, se wanbetaling van haar lidmaatskapsgelde het haar duur te staan gekom.
Elexander se lidmaatskap is deur die DA opgeskort en die Karoodorp se kiesers moet weer toustaan om te stem vir 'n nuwe wyk 2-raadslid.
Beaufort-Wes is weer 'n hangraad, met ses ANC-, vyf DA en een KDF (Karoo Democratic Front)-raadslid.
Elexander se stoel sal tot na die 21 Februarie 2018-tussenverkiesing leeg wees.
Hierdie setel in die raad het die DA/KDF-koalisie 'n sewe teenoor ses meerderheid in die raad besorg.
Jaco Londt, die voorsitter van die DA se oosstreek en lid van die parlement, het Woensdag gesê: "Ons (die DA) behoort gemaklik weer ons setel terug te wen.
"Die daarstel van 'n goeie kandidaat en 'n goeie verkiesingsveldtog sal bepalend wees."
Volgens Londt sal die DA binne die volgende twee weke hulle nuwe kandidaat aanwys.
Beaufort-Wes se kiesers sal met dié tussenverkiesing vir die tweede keer na die 3 Augustus 2016-munisipale verkiesings tou staan by die stemlokale.
Die regerende koalisieraad is op 27 Februarie ook in 'n hangraad omskep, toe Koos (George) Malooi, die voormalige DA-burgemeester en wyk 7-raadslid met onmiddellike effek bedank het.
'n Tussenverkiesing het op Woensdag 24 Mei plaasgevind, om Malooi se setel te vul.
Die verkiesing is beveg deur kandidate van die DA (Japie van der Linde), ANC (Stanley Ncanyesi) en EFF (Benjamin Faas).
Die DA het 56,95% van die stemme verower (1 724 stemme) terwyl die ANC 41,33% van die stemme (1 251) ontvang het en die EFF 1,72% (52 stemme).
Met die landwye munisipale verkiesings van 3 Augustus het die DA in koalisie met die KDF beheer geneem van Beaufort-Wes se munisipale raad.
Dit na die ANC onder leierskap van Truman Prince, die dorp 22 jaar lank regeer het.
Daar bestaan nog onsekerheid oor watter politieke partye Elexander se pos gaan beveg.
Lees 'n vorige artikel: Beaufort-Wes kiesers terug na stembus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'