BEAUFORT-WES NUUS - Die Gamkadam by Beaufort-Wes is sedert Oktober dolleeg en water moet spaarsamig gebruik word. Die dorp is egter nie sonder water soos wat die afgelope week op sommige platforms verkondig is nie.
"Die watersituasie is kommerwekkend, maar op die oomblik het ons darem nog water," sê Norwood Kotze van die Beaufort-Wes Munisipaliteit.
Al is die Gamkadam leeg, beteken dit nie dat die dorp heeltemal droog is nie, want na die groot droogte van 2010, die vorige keer toe die Gamkadam dolleeg was, het die dorp verskeie maatreëls ingestel om 'n krisis af te weer.
Altesaam 84% van die dorp se water word verkry uit 32 boorgate, waarvan drie nuwes sedert Oktober vanjaar gesink is. Die water word in 'n reservoir gestoor en nadat dit deur die suiweringswerke gepomp is, in die netwerk versprei.
Die ander 16% van die dorp se water word verkry uit 'n herwinningsaanleg wat rioolwater suiwer sodat dit in die netwerk teruggeplaas kan word. Beaufort-Wes is, sover bekend, die enigste munisipaliteit in die land wat sulke rioolwater vir menslike gebruik herwin. "Na die droogte in 2010 toe die dorp regtig in die moeilikheid was en die Bottels vir Beaufort-projek van stapel gestuur is, het die munisipaliteit besluit om die alternatief van gesuiwerde rioolwater te ondersoek," sê Kotze.
Benewens die munisipaliteit se 32 boorgate, is daar ook sowat 700 boorgate op privaat eiendom in die dorpsgebied. "'n Mens kan die situasie vergelyk met 'n klomp strooitjies in 'n koeldrankglas waaruit almal drink, maar gelukkig is daar verskeie ondergrondse bronne."
Die boorgate, wat tussen 70 en 100 m diep is, word deurlopend gemoniteer en daar is bevind dat die ondergrondse watertafel weens die voortslepende droogte gesak het. Dit reën nie genoeg om die watertafel aan te vul nie. Die gemiddelde reënval is 266 mm per jaar, maar dit het die afgelope drie jaar heelwat minder gereën: 150 mm in 2015, 190 mm in 2016, en 110 mm in 2017.
"Dit beteken dat die boorgate enige tyd een na die ander kan begin opdroog, en daarom vra ons inwoners om water spaarsamig te gebruik." Tans word huishoudings beperk tot 12 000 liter per maand, dus sowat 400 liter per huishouding per dag.
Sedert 2010 het die munisipaliteit vyf boorgate sowat 10 km suid van die dorp gesink, maar hierdie boorgate is nog nie toegerus nie. "Dit sal sowat R45 miljoen kos om die boorgate toe te rus, en ons het nie die nodige fondse nie."
Volgens Kotze het Gift of the Givers die afgelope twee weke verskeie toetsgate aan die westekant van die dorp geboor. "Hulle het water gekry, maar ons het nog nie 'n amptelike verslag ontvang nie. Ons waardeer hul betrokkenheid, want elke druppel help." Daar is ook sprake van 'n veldtog om gebottelde water uit die res van die land na Beaufort-Wes te stuur. "In 'n krisissituasie kan gebottelde water uitkoms bied by hospitale en versorgingseenhede vir bejaardes. Ons waardeer alle hulp."
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'