OUDTSHOORN NUUS - 'n Botsing tussen twee bussies Maandagoggend, 11 November, buite Klaarstroom, het byna die lewe van 'n vyf maande oue babaseuntjie gekos.
Volgens Brian werk hy by Osman Handelaar waar die ongeluk gebeur het, en het sy vrou en seuntjie by hom gekuier.
Hulle het buite die winkel gestaan en gesels en hul babaseun, Bryce, was in sy stootwaentjie.
"Die volgende oomblik het 'n bussie teen 'n groot spoed aangery gekom en nog 'n bussie getref wat besig was om af te draai Klaarstroom toe. Die bussie het met die impak op sy sy te lande gekom, maar die ander een het deur die heining van die winkel gebars en by die winkel waar Bryce in sy stootwaentjie was tot stilstand gekom.
"Die stootwaentjie was onder die voorwiel. Ons het ons doodgeskrik en wou net ons kind daar uitkry en by 'n hospitaal kry."
Bryce en Brian is in George-hospitaal opgeneem.
Brian het beserings aan sy arm en been opgedoen en Bryce se been is gebreek.
Brian se skouer is ook in die voorval beseer.
Beide is nog in die hospitaal en hulle hoop om gou ontslaan te word.
"Buiten dat ons baba seergekry het, is ons dankbaar dat hy lewe, maar dit is nie lekker om jou kind so weerloos te sien nie."
Volgens die eienaar van die handelaar, Muzammil Osman, sit hy nou met groot skade en het drie families hul inkomste verloor. "Ek bereken nog die skade, maar ek moes my winkel sluit vir besigheid weens die skade." Osman is besig om regsadvies in te win.
Navraag is aan die polisie gestuur, maar teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie.
Bryce is tans in die George-hospitaal waar hy vir sy beserings behandel word. Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’