Update
OUDTSHOORN NUUS - Eshline Daniels (18 maande), wat ernstige brandwonde opgedoen het toe die opslaanhut waarin sy en haar ma, Gerika, gewoon het, afgebrand het, is onlangs uit die hospitaal ontslaan.
Gerika het die ergste gebrand en word steeds in Tygerberg-hospitaal behandel. Sy het derdegraadse brandwonde oor haar hele lyf en gesig opgedoen.
Die verwoestende voorval het op Saterdag 1 Februarie in Dysselsdorp plaasgevind. Die gesin het alles in die brand verloor. Bure het op hul noodkrete gereageer en kon die ma en dogter uit die brandende struktuur red, maar albei het ernstige brandwonde opgedoen.
Hoewel die dokters verlede week die familie laat weet het dat Gerika ernstige longinfeksie het en net 'n 50/50 kans op oorlewing het, het hulle Dinsdag 18 Februarie gesê haar toestand het drasties verbeter.
Dora Davids, Gerika se tannie wat tans na Eshline omsien, sê Gerika was onder verdowing en kon glad nie praat nie.
"Die dokter het laat weet dat dit nou beter met haar gaan. Sy was onder verdowing, maar maak af en toe haar oë oop en toe. Daar is ook moontlik skade aan haar lugweg," sê Davids bekommerd.
Volgens Davids gaan die dokters Vrydag 21 Februarie die eerste veloorplanting doen. Die familie is onseker oor wanneer sy ontslaan gaan word, maar besef dat haar herstel weens die erns van haar beserings nog maande kan duur.
Intussen probeer die familie vir Eshline na die beste van hul vermoë versorg, maar dit breek hul harte om haar in soveel pyn te sien.
Klein Eshline het brandwonde oor die grootste deel van haar rug, hande, arms en voete opgedoen.
"Sy verstaan nie wat aangaan nie. Haar geaardheid het heeltemal verander. Sy was altyd 'n besige lyfie en 'n vreeslike babbelbekkie. Nou het sy ophou praat en kan sy weens die brandwonde aan haar voete ook nie loop nie," vertel Davids.
Eshline ontvang elke tweede dag behandeling by die Dysselsdorp-kliniek. "Die kliniekpersoneel versorg haar wonde en ruil die verbande om. Sy kry stroop vir pyn en inflammasie. Sy drink baie vloeistowwe en eet sagte kos, maar is baie huilerig en wil net slaap," verduidelik Davids.
"Hulle het alles in die brand verloor, maar ons grootste hoop is nou dat Gerika gesond sal word en dat klein Eshline se wonde ten volle sal genees."
Volgens haar is lede van die gemeenskap ook besig met insamelings vir die gesin.
"Hulle het letterlik alles verloor. Eshline het ook 'n boetie van 11 jaar oud. Hy was die aand van die brand nie by die huis nie . Al sy goed het ook uitgebrand."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’