PRINS ALBERT NUUS - Die Prins Albert-tak van die ATKV is by die jaarkongres in die kategorie, kunste, vereer. Die toekenning is gemaak op grond van die tak se rol in die prestasie van die rieldansgroep, Prins Albert Vastrappers, wat vier jaar gelede deur Denise Ohlson, plaaslike ATKV-voorsitter, gestig is.
Sedertdien het die Vastrappers talle toekennings gewen en is einde verlede jaar by die Nasionale Rieldanskompetisie in die Paarl aangewys as een van die land se topgroepe.
Die tema van vanjaar se ATKV algemene jaarvergadering was, "Wat kan die ATKV doen om 'n beter Suid-Afrika te bou?"
Sowat 400 afgevaardigdes van ATKV-takke landswyd het die geleentheid by Klein Kariba buite Bela-Bela bygewoon.
Bridgite Mathews, direksievoorsitter, het gesê Afrikaanssprekendes is in beheer van die toekoms en voortbestaan van sy taal.
"Ons het 'n verantwoordelikheid om ons liefde vir Afrikaans ten toon te stel. Suid-Afrikaners sluit om verskillende redes by die ATKV aan – om van die organisasie se vakansieoorde gebruik te maak, om sy tydskrif – Taalgenoot – te kry, om Lapa-boeke te koop, of om deel te wees van sy talle kultuurprojekte. Dis dié projekte en publikasies wat die ATKV se voetspoor vergroot."
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur, kan die sukses van die ATKV toegeskryf word aan sy vermoë om by veranderende omstandighede aan te pas.
"Etiese leierskap en sterk finansiële bestuur is hoekstene. Ons het 89 jaar agter ons van omsien na diverse groepe Afrikaanssprekendes. Ons probeer om 'n positiewe impak te hê op gemeenskappe en die natuurlike omgewing.
"As burgerlike organisasie probeer die ATKV 'n verskil maak deur strategiese vennootskappe aan te knoop en innoverend te dink. Afrikaans en Afrikaanssprekendes is 'n integrale deel van die Suid-Afrikaanse landskap. Afrikaans is ons kernbesigheid."
Die ATKV het sowat vyftig verskillende taal- en kultuurprojekte, waaronder die Afrikaans-in-Soweto-inisiatief wat boeke en ekstra taallesse, veral vir leerders, na dié gemeenskap bring.
Op die vergadering is Marlene le Roux, uitvoerende bedryfshoof van die Kunstekaap-teater, as direksielid aangewys in die plek van Herman Bailey wat ná 17 jaar uitgetree het.
"My passie is om deur kuns en kultuur uit te reik na die diverse gemeenskappe in Suid-Afrika en 'n platform te skep waar almal kan tuishoort, veral gemeenskappe wat voorheen op kulturele, ekonomiese en sosiale vlakke gemarginaliseer is," het sy gesê.
Die ATKV gaan sy 90ste bestaansjaar volgende jaar met verskeie projekte en aanbiedings vier.
Om lid te word, besoek www.atkv.org.za
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'