PRINS ALBERT NUUS - Die ATKV betree op nasionale vlak 'n nuwe era van vaartbelynde dienslewering, digitalisering en 'n nog groter betrokkenheid by die bedrywighede van al sy takke regoor Suid-Afrika. Dit was die boodskap voorverlede Vrydagaand van Almero Oosthuizen, ATKV-streekverteenwoordiger, op die Prins Albert-tak se jaarvergadering.
Oosthuizen het in sy toespraak gesê die ATKV, met 'n ledetal landwyd van 74 000, is afhanklik van sy vrywillige werkers, met die doelwit om óór kultuurgrense heen Suid-Afrikaners bymekaar te bring.
"Wat kan die ATKV doen om 'n beter Suid-Afrika te bou? Hoe kan ons bydra om 'n positiewe samelewing te ontwikkel?" Dié benadering is die ATKV se tema vir 2019, saam met sy vaste slagspreuk Trots Suid-Afrikaans, in Afrikaans.
"Ons is 'n strategiese vennoot vir Afrikaans. Ons werk ook mee aan die bevordering van ander inheemse tale, want ons weet as jy lief is vir Afrikaans is jy ook lief vir ander tale," het Oosthuizen gesê.
Een van die ATKV se jaarlikse topprojekte, waarvan daar meer as 70 is, is die rieldanskompetisie, waarin die Prins Albert Vastrappers einde verlede jaar uitgeblink het. Denise Ohlson, voorsitter van die Prins Albert-tak, het gesê behalwe die verdere ontwikkeling van die Vastrappers, word die stigting van 'n Afrikaans-Nederlandse leesklub, onder die vaandel van dié tak, vanjaar op die dorp beoog.
By dié jaarvergadering is die weninskrywings (prosa en poësie) in die skryfkompetisie van die Prins Albert-leesfees 2018voorgelees.
Die wenners van die skryfkompetisie het só presteer:
Volwassenes: Hanli Burger (1ste, prosa en poësie), Cobus Buys (2de, poësie; 3de prosa), Alwyn Visser (3de, poësie; 4de, prosa), Derek Hendriks (4de, poësie; 2de, prosa) en leerders: Jamozeen de Wee (1ste, prosa) en Marklin Deelman (1ste, poësie).
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'