OUDTSHOORN NUUS - Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), 'n vereniging wat ten doel het om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, het weer sy fokus op gemeenskapsdiens geplaas deur middel van sy Warmhart-projek.
Die ATKV is in 1930 in Kaapstad gestig en het sedertdien gegroei tot 'n landwye organisasie met takke regoor Suid-Afrika en Namibië.
Volgens inligting bestaan die vereniging uit sowat 320 takke, met ongeveer 4 500 aktiewe lede wat jaarliks by meer as 1 000 gemeenskapsprojekte betrokke is.
Volgens Suzette Basson, voorsitter van die ATKV-tak Oudtshoorn, bestaan die vereniging uit vrywillige lede vir wie kultuurbeoefening "so lekker is soos 'n yskoue gemmerbier op 'n snikhete dag".
Sy sê verder dat lede, terwyl hulle in Afrikaans kuier, leef en werk, ook waardevolle verhoudings bou en 'n positiewe verskil in hul gemeenskappe maak.
Die ATKV-tak Oudtshoorn is reeds in 1936 gestig en vorm deel van hierdie breër netwerk. Die plaaslike tak het tans agt lede en fokus hierdie seisoen op 'n Warmhart-inisiatief om gesinne in nood gedurende die winter te ondersteun.
Hulle nooi die gemeenskap uit om by te dra met skenkings van klere, kouse, mussies en kombersies. Items kan nuut of tweedehands wees, solank dit netjies en skoon is. Kontantdonasies word ook verwelkom.
Alle bydraes sal met sorg en liefde oorhandig word aan die Klein Eendjies Skool op Volmoed. Volgens Basson beplan hulle ook 'n verfraaiingsprojek by die skool vir Mandeladag waar hulle opknappingswerk aan onder meer die tuin en die gebou beplan.
Aflaaipunte vir skenkings sluit in Watson & Brink (Thea Fourie) en Suid-Kaap Finansiële Dienste (Suzette Basson).
Die sperdatum vir donasies is 22 Junie.
Vir navrae kan Basson by 081 709 9908 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’