OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man van Oudtshoorn wat teregstaan op drie aanklagte van strafbare manslag is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof tot September uitgestel toe die betrokke landdros as gevolg van siekte nie by die hof kon wees nie.
Javier Arends (24) was die bestuurder van die motor wat op 13 Julie 2019 op die De Rust-pad die pad verlaat en gerol het.
Drie van sy vriende, Chandre Nortjé, Jacques Prinsloo en Bertram Michaels het aan hul beserings beswyk terwyl Arends ook ernstige beserings opgedoen het. Cassius Ewerts, wat ook in die voertuig was, is beseer. Die verhoor is met die getuienis van die ondersoekbeampte, kapt. Deon Bouwer, voortgesit nadat die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, nie Arends se pleitverduideliking wou aanvaar nie.
Volgens Bouwer is nalatige bestuur die oorsaak van die ongeluk. Hy het egter onder kruisverhoor deur Arends se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, erken dat hy nie ‘n kenner ten opsigte van spoed is nie.
Arends erken in sy pleitverduideliking dat hy die bestuurder van ‘n VW Golf was en onwettig en nalatig verantwoordelik was vir die dood van Nortjé, Prinsloo en Michaels. Hy voer egter aan dat hy as gevolg van ernstige kopbeserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, geen kennis dra van hoe dit gebeur het nie.
Die staat het die hof na die getuienis van die ondersoekbeampte om uitstel gevra omdat gewag word vir ‘n doktersverslag ten opsigte van Arends se beserings.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is Dinsdag vir verdere verhoor tot 8 September uitgestel. Arends is op waarskuwing.
Bertrum Michaels
Chandre Nortjé
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’