Gallery
CALITZDORP NUUS - Die derde Appelkoosfees en Kersmark is Saterdag by die ou stasie gehou.
Soos gewoonlik was dit die staatmakers in die gemeenskap wat die hitte verduur het bo die blink potte op die gasbranders terwyl die kwik buite op 35° C staan.
Vrydagaand het die spannetjie, wat ook sorg dat die tafels en gasstowe kom waar hulle hoort, ook sowat 350 kg appelkose ontpit en die appelkooshalwes met gelyke hoeveelhede suiker in plastieksakke verpak, gereed vir die groot kook. En 07:00 Saterdagoggend het die vrywilligers in aflosspanne begin kook.
Die Appelkoosfees val saam met die appelkose wat hierdie tyd van die jaar ryp word. Die appelkose is deur Irma en Dewald Welman geskenk wat op die buitewyke van die dorp met appekose boer. “Ons is baie dankbaar, want ten spyte van die droogte het ons eintlik baie appelkose,” vertel Irma.
Die geld wat verdien word uit die verkope van die appelkooskonfyt word in die gemeenskapskas gestort en gebruik om mense wat swaarkry te help. Twee jong skaakspelers en ‘n kranige jong atleet is gehelp om aan nasionale kampioenskappe deel te neem.
Karin Honiball, Marina Murris en Pat Calitz was onder die inwoners wat hul kant gebring het. “Weens die droogte kry die boere baie swaar,” sê Pat.
Omdat die vrugteoes meer as die helfte minder is, is daar nie werk vir seisoenswerkers nie.” Sy meen die saamkook bevorder ‘n samehorigheidsgevoel.
“Dit lig die gemoedere om te kan help.”
Gastehuiseienaars maak ook beurte om maaltye voor te berei en by die Hope-sentrum op die dorp af te lewer waar honger straatkinders kan kom aansit. Die sentrum bied ook maatskaplike dienste en traumaberading.
Plaaslike musikante Liezl van Eeden en Theuns van Dyk van Fynbos het gesorg vir lekker musiek. “Ons is die afgelope ses maande in Calitzdorp, en die dorp en sy mense groei op ‘n mens,” sê Liezl.
Daar is nie vanjaar ‘n potjiekoskompetisie gehou nie, maar ‘n klompie inwoners van Bergsig het op eie inisiatief hoender-, lam- en beesvleispotte gemaak. “Die geheim van die potte lê in die speserye,” vertel Keagan Flippies.
Mike Muuren, wat al 11 jaar die Ou Poskantoor Galery en koffiewinkel by Groenfontein het, meen Calitzdorp is ‘n besondere dorpie. “Hier heers ‘n lekker gees wat uniek is aan die dorp.
Die jongmense wat deur die jare weggetrek het, is besig om terug te keer met hul kinders. Maar dit is veral die “inkommers” wat van elders af hier kom vrede vind het, wat die dorpie laat kook. “Hier gaan nie veel aan nie, daarom moet ons goed doen om ‘n lewe te maak.”
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'