Deurentyd word musiek gemaak op die stoep van die stasiegebou wat omskep is in 'n kuierplek. Hier kry diegene wat oorval word deur somersimpelgeit ook kans om karaoke-kapperjolle uit te haal.
Benewens ander prettige aktiwiteite sal die kinders vanjaar ook in 'n fraai perdekar kan rondry en aan boeresport deelneem wat appelkose behels: kan dit dalk appelkoospitspoeg of appelkoos-in-'n-lepel of hap 'n appelkoos in 'n balie vol water insluit?
Van vroegdag af word die vure onder die boepenspotte aangesteek en dan sê plaaslike spanne mekaar die stryd aan om die heel lekkerste Klein-Karoo-pot aanmekaar te slaan. Die kompetisie is gewoonlik straf en nadat die natgeswete spanne om 16:00 gehoor het wie wen, kry besoekers kans om die inhoud van die stomende potte te verslind.
Die spanne verskaf self die towerbestanddele vir die magiese potte en die inkomste wat uit die verkope verdien word, word in die Calitzdorp-gemeenskapskas gestort om in die gemeenskap aan te wend.
Wanneer dit donker word is dit tyd vir 'n buitelugvertoning van die Rocky Horror Picture Show. Diegene wat hul Halloween-uitrustings nog 'n keer vanjaar wil aantrek, mag so maak.
En nog is dit het einde niet: die wat nog asem en energie oor het kan dan in die ou goedere-loods langs die kuierplek lekker litte losmaak tot die hane kraai.
Vir meer inligting oor die fees kontak Zelma Kriek by 082 576 5855 of strooikooi@gmail.com.
Vir meer inligting oor De Krans se Appelkoospluk, kontak Helet Viljoen of Bessie Swanepoel by 044 213 3314/64 of dekrans@mweb.co.za om te bespreek vir 'n lekker ete by De Krans se nuwe Deli/Bistro.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein-Karoo nuus'