OUDTSHOORN NUUS - APD Oudtshoorn het pas ’n broodnodige hupstoot gekry met die oorhandiging van ’n splinternuwe, rolstoelvriendelike bussie deur die departement van maatskaplike dienste.
Die voertuig sal gebruik word om gestremde kinders van die APD Sonskynhoekie-dagsorgsentrum veilig en gerieflik te vervoer.
Monique Malan, maatskaplike hulpwerker by APD Oudtshoorn, sê die organisasie het lank op die voertuig gewag, maar hulle is “buitengewoon dankbaar” dat dit nou uiteindelik ’n werklikheid is.
“Hierdie bussie beteken soveel vir ons kinders se mobiliteit en ons dienslewering,” het Malan gesê.
Volgens Rashieda Booysen, kantoorhoof van APD Oudtshoorn, het hulle byna twee jaar vir die bussie gewag.
“Die voertuig is rolstoelvriendelik, wat dit baie makliker maak om ons kinders op te tel en by die sentrum te bring. Ons het nou twee bussies, wat beteken ons kan die kinders vroeër optel, langer by ons hou en meer tyd saam met hulle spandeer om te help en te ondersteun,” het sy verduidelik.
Die oorhandiging is op ’n feestelike noot gevier. Personeel het van die geleentheid gebruik gemaak om die vrouepersoneel van APD te eer. Maria Buys het ’n inspirerende geestelike boodskap gelewer, waarna die bussie amptelik geseën is voordat dit vir sy eerste rit vertrek het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’