OUDTSHOORN NUUS - Die CJ Langenhoven-biblioteek was 2 Julie gevul met kreatiwiteit, inspirasie en geloof toe sowat 40 vroue en dogters van Oudtshoorn en omliggende gebiede, waaronder lede van die plaaslike Vroue-Landbouvereniging (VLV), aan 'n spesiale saamkuier deelgeneem het.
Die geleentheid is deur Mariette Beukes en haar span van Anties Bring Hoop aangebied, en was danksy die organisasie se skenkers en borge gratis.
Hoewel die geleentheid kreatiewe aktiwiteite ingesluit het, was dit veel meer as 'n skilderklas.
"Dit was 'n rustige en inspirerende ervaring waar elke vrou welkom gevoel het," vertel Petro Doman, voorsitter van die VLV Oudtshoorn-tak.
"Deur eenvoudige en toeganklike kreatiewe tegnieke is deelnemers aangemoedig om hul gedagtes tot rus te bring, hul harte oop te stel en weer vreugde in die alledaagse te vind. Tydens die saamkuier, waartydens verversings deur die VLV verkoop is, het deelnemers met verfkwasse, stensils, geskeurde boekblaaie en servette kreatief gewerk terwyl hulle meer geleer het oor Eva, die eerste vrou in die Bybel."
Beukes het die Bybeljoernaalsessie self aangebied en deelnemers op 'n boeiende wyse deur Eva se lewensverhaal geneem.
"Vir baie was Eva voorheen 'n 'gesiglose' Bybelfiguur, maar ná die aanbieding het die vroue gesê hulle verstaan haar lewe, uitdagings en omstandighede baie beter. Die kreatiewe projek het rondom die tema van die gesiglose Eva gesentreer. Elke deelnemer het haar eie unieke kunswerk geskep en saam huis toe geneem, 'n herinnering wat waarskynlik 'n besondere plek in baie huise sal inneem," sê Doman.
Ter afsluiting het elke vrou ook 'n stensil van 'n mossie ontvang om tuis haar eie kunswerk te voltooi.
Die deelnemers het aangedui dat hulle met graagte weer aan 'n soortgelyke saamkuier sal deelneem wanneer Anties Bring Hoop weer die Klein-Karoo besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’